Edition / Uitgawe Nov 2015

Belgiese eredoktorsgraad vir Old Boy

Reuter

‘n Sonderlinge akademiese eerbetoon aan oud-leerling Markus Reuter was nog ‘n spesiale prestasie vanjaar vir Paul Roos Gimnasium om sy 150ste bestaansjaar iets buitengewoons te maak.

Op 28 Maart het prof Markus Reuter (matriek 1976) ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Liége in België ontvang vir sy groot bydrae op die gebied van die herwinning van metale uit primêre en hergesirkuleerde grondstowwe om ekonomiese volhoubaarheid te verseker.

Daarmee bevind hy hom nou in ‘n uitgesoekte kring: president Nelson Mandela het in 1998 ‘n eregraad van dieselfde universiteit ontvang en so ook die voormalige Duitse kanselier Helmut Kohl, die grensverskuiwende skrywer Salman Rusdie, die Italiaanse filosoof Umberto Eco en die Afrika-leier en akademikus Leopold Senghor.

Prof Reuter het na skool ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch bestudeer en uiteindelik die grade D.Ing en Ph.D daar behaal. In 1995 het hy ‘n derde doktersgraad aan die Universiteit van Aachen in Duitsland verwerf.

Van 1999 tot 2007 was hy ere-professor van die fakulteit Ingenieurswese op Stellenbosch, terwyl hy terselfdertyd ook ‘n professoraat aan die Universiteit van Delft, Nederland, beklee het.

Sedert 2006 is hy Hoof Uitvoerende Tegnoloog van Outotec in Finland. Outotec is wêreldwyd twaalfde op die lys van firmas vir volhoubaarheid, herwinning en prosessering. Hy is deeltydse professor aan die Aalto-Universiteit in Finland, ‘n professorale genoot aan die Universiteit van Melbourne in Australië en buitengewone professor aan die Central South University in China.

Professor Reuter was op skool ‘n kranige hokkiespeler en het ook hokkie vir die Maties se eerste hokkiespan gespeel en provinsiale kleure verwerf. Sy hart is nog steeds in die Boland en hy besoek ons land jaarliks.

Cornelia de Kock