Die matrieks van 1974 het ‘n lang pad gekom sedert vyftig jaar gelede. Geen wonder nie dat hulle toe besluit om dié merkwaardige geleentheid oor vier dae uit te rek, van 17 tot 20 April!
Op die Woensdagaand het die manne afgeskop met ‘n steakbraai en heerlike bykosse soos net die nimlike Helene van Wyk kan reël. By Markötter is daar tot laatnag oor die ou dae gesels.
Read more: Klas van 1974 vier hul 50ste reünie in styl
Donderdagoggend vroeg het ‘n klompie dapper stappers vergesel van hul vroue en vriendinne op Mooiplaas in die Bottelary-heuwels gaan stap waar Tielman Roos hul vertel het van sy renosterveld-bewarea. Agterna het Tielman en wynmakerlegende Gary Baumgarten van die spesiale Mooiplaas-wyne laat proe. Die dag is afgesluit met ‘n potjiekos-kuier rondom lang tafels.
Die volgende dag is van die manne terug skool toe, ‘n saalbyeenkoms bygewoon en ook die skoolterrein gaan bekyk en teruggedink aan hul dae en wat alles intussen verander het.
Ons klas was en is bevoorreg om familie-wynmakers in die distrik te hê. Laatoggend is ‘n besondere wynproe op Simonsig deur Johan Malan, jonger broer van Francois, aangebied. ‘n Uitgerekte ligte middagete het daarna gevolg. Weer eens was gades welkom.
Vrydagaand het die manne by die Stellenbosch-gholfklub tot laat gesellig gekuier, oor ‘n uitstekende tweegangete en topwyne daarby.
Saterdag was ons bevoorreg om te sien hoe Paul Roos Boishaai op Markötter afransel. Wat ‘n bulspan het Paul Roos nie vanjaar gehad nie!
Sedert ons 20jaar-reünie is dit nou al tradisie om elke reünie af te sluit met ‘n dinee op Simonsig, gades soos altyd by en dit was weer die hoogtepunt van die reünieweek. Na ‘n driegangete het ‘n veiling van topwyne van ons klas se wynmakers in ‘n wynsak met die 50jaar-embleem sowat R35 535 opgelewer, oorgenoeg vir ekstra uitgawes aangegaan in die week en die res van die bedrag is geskenk aan die OSU.
Dit was ‘n belewenis om hierdie besondere reünie te kon bywoon en met ou kamerade en les bes, oud-onderwysers soos George Doc, Dawid Taylor en Neil du Toit, herinneringe op te diep en, nou sien almal reeds uit na ons volgende reünie.
Hugo Truter, namens die reëlingskomitee
Die verhaal van ‘n suksesvolle 50jaar-reünie in beeld: begin met ‘n steakbraai op Markötter, verken die renosterveld op Mooiplaas, proe wyn op Simonsig, kyk wenrugby en eet, drink en gesels wanneer jy kan.