Bouwer se tragiese heengaan plaas kollig op kwesbaarheid van vegters teen korrupsie

Bouwer van Niekerk, ’n oud-Paul Rooser en seun van prof Anton van Niekerk, is onlangs in Johannesburg vermoor in wat owerhede as ’n doelbewuste sluipmoord beskryf. Sy dood het groot opslae gemaak en die regsgemeenskap diep geskok.

Bouwer, ’n gesiene prokureur in die veld van insolvensie en herstrukturering, is in
September 2025 in sy kantoor in Saxonwold, Johannesburg, doodgeskiet. Volgens die
polisie was dit ’n berekende aanval: niks is gesteel nie, en die moord het plaasgevind terwyl hy aan hoëprofiel-sake gewerk het, onder meer ’n groot insolvensiesaak wat aan ’n beweerde Ponzi-skema gekoppel is. Sy dood herinner aan die gewelddadige moorde op Cloete Murray en sy seun Thomas, wat ook die regsgemeenskap geruk het.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Herstrukturering en Insolvensiepraktisyns (SARIPA) het hul “diepste skok en verontwaardiging” uitgespreek en die aanval as ’n direkte aanslag op die regstelsel beskryf. Hulle het beklemtoon dat professionele mense hul werk sonder vrees of intimidasie moet kan doen. Verskeie leiers, insluitend die minister van justisie, het die moord veroordeel en ’n dringende ondersoek geëis. Bouwer se nalatenskap as ’n etiese, toegewyde regsman sal onthou word, en sy dood laat ’n groot leemte – nie net in die regsgemeenskap nie, maar ook onder sy oudskoolmaats en die breër Paul Roos-netwerk.

Sy tragiese heengaan plaas ’n skerp lig op die kwesbaarheid van regspraktisyns wat korrupsie en georganiseerde misdaad trotseer. Vir die Paul Roos-gemeenskap is dit ’n oomblik van rou en herinnering: ’n oudleerling wat sy loopbaan aan regverdigheid gewy het, het sy lewe verloor omdat hy sy werk met integriteit gedoen het.

Lees die Netwerk24 artikel hier

Oudonderwyser was ‘n baken in Afrikaanse leksikografie

Met die heengaan van dr. Frikkie Lombard op 19 April 2025, neem ons afskeid van ‘n oudonderwyser en taalkundige reus wat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) met toewyding en kundigheid gevorm het. Sy nalatenskap strek oor dekades van noukeurige werk, deursettingsvermoë en liefde vir die Afrikaanse taal.

Dr. Lombard, gebore in 1953 in Bellville, se loopbaan was ‘n merkwaardige reis. Na sy studies aan die Universiteit Stellenbosch en ‘n onderwyspos by Paul Roos Gimnasium, het hy in 1982 by die WAT aangesluit. Sedertdien het hy hom onwrikbaar toegewy aan die verruiming van Afrikaans se woordeskat en die akkuraatheid van sy definisies. Onder sy leiding as eindredakteur sedert 2002, is nege woordeboekdele voltooi—’n bewys van sy onvergelykbare werksetiek en intellektuele vernuf.

Buiten sy werk aan die WAT, het hy vir meer as 25 jaar ‘n sleutelrol in die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vervul. Hier het hy 15 jaar lank as sekretaris gedien, ‘n posisie waarin hy help rigting gee het aan die ontwikkeling van Afrikaans. Sy bydraes het hom erkenning besorg in die vorm van die C.J. Langenhovenprys vir Taalwetenskap en die C.L. Engelbrechtprys.

In sy laaste dae het dr. Lombard gewerk aan die woord “trek”—’n gepaste simbool van sy lewenspad en die migrasie van sy kennis oor generasies heen. Sy invloed strek veel verder as die bladsye van die WAT; dit leef voort in elke Afrikaanse sin wat noukeurigheid en betekenis dra.

Ons salueer ‘n ware taalbouer, mentor en vriend van Afrikaans. Mag sy nalatenskap bly voortleef in die taal waaraan hy sy lewe gewy het.

Lees gerus ook berig op Netwerk 24.

Huldeblyk: Pieter-Jan Bestbier (1986)

Met die heengaan van Pieter-Jan Bestbier op 5 Maart 2025, het Paul Roos Gimnasium en sy Oudskoliere-Unie een van sy mees toegewyde lede verloor. Pieter-Jan was nie net ‘n oud-leerling van PRG nie, maar ook ‘n ouer, ‘n beheerliggaamlid, en voorsitter van die finansiële komitee. Hy het diep spore in die gemeenskap getrap deur as voorsitter van die Oud-Skolierevereniging en trustee van die PRG 150-Trust te dien.

Sy finansiële kundigheid, onwrikbare toewyding en vermoë om beleid en strukture te implementeer het ‘n blywende impak op die skool en sy Oudskoliere gehad. Pieter-Jan se vermoë om sy kennis vrylik te deel en ‘n sentrale rol in die skoolgemeenskap te vervul, het hom een van die mees gerespekteerde figure binne Paul Roos Gimnasium gemaak.

Buite sy verbintenis met die skool was hy ‘n geoktrooieerde rekenmeester en ‘n direkteur by Loubser Du Plessis Inc., ‘n firma van openbare rekenmeesters in Stellenbosch. Sy kundigheid en professionele integriteit was wye bekend, en sy werk het ‘n diep invloed op die finansiële sektor gehad.

Pieter-Jan laat sy vrou, Jeanne-Marie, en hul seun en tweeling dogters agter, wat saam met sy geliefde gemeenskap sy afwesigheid innig sal voel. Sy passie, toewyding en onbaatsugtige diens aan Paul Roos Gimnasium en sy Oudskoliere sal voortleef in die nalatenskap wat hy opgebou het.

Ons eer sy herinnering en groet ‘n ware staatmaker van die PRG-gemeenskap.

Willie Engelbrecht (1980) was een van SA se grootste fietsryers

Die nuus dat Willie Engebrecht onverwags op 1 Desember oorlede is, het heelwat kommentaar en meegevoel uitgelok. Willie (Klas van 1980) word beskou as een van die beste fietsryers wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Hy het tussen 1988 en 1994 die Argus-fietstoer vyf keer in sewe jaar gewen. Hy het ook die Rapport-toer in 1990 gewen en het die bronsmedalje in die padwedren in 1994 op die Statebondspele in Kanada verower. Hy het ook in die laat tagtigerjare en vroeë negentigerjare aan Europese wedrenne deelgeneem.

Heelwat huldeblyke het ingestroom kort na die nuus van sy dood bekend geword het, maar hierdie een van die sportskrywer Colin Hoffman,op Facebook vat dit veral mooi saam:

“Willie het gedurende sy loopbaan as mededingende fietsryer ongelooflike plesier aan sy ondersteuners en selfs opponente verskaf. Daar was niks mooier as om Willie op volle vaart te sien wanneer hy besluit het om ‘n uitdaging te rig en sy opponente te toets.

“Dit was soos die Engelse sê, “poetry in motion”. Dit was asof hy en sy fiets een geword het. Niks anders as daardie blink en atleties-gevormde bene en die wiele het beweeg. Die gemak waarmee hy onder sy teenstanders kon uitry, het jou soms na jou asem laat snak.

“Dit was nie ‘n bakleiery met die fiets soos baie ryers lyk asof dit ‘n sak aartappels is wat bo wil bly nie. Nee, Willie was ‘n prentjie. ‘n Prentjie wat in jou gedagtes gebly het.

“As fietsryer het hy ongelooflike sukses behaal en kan ongetwyfeld as een van Suid-Afrika se suksesvolste pad- én baanryers beskou word. Met sy bykans filmster-uiterlike en ‘n blonde boskaas, het hy altyd uitgestaan. Hy het ‘n teenwoordigheid sonder weerga gehad.

“My eie pad met Willie strek so ver terug as 1984 toe hy gedurende ‘n skof van die Rapport Toer op Newcastle in die naelrit na die eindstreep agter in die televisiemotor vasgejaag, geval en sy sleutelbeen gebreek het. Hy het die volgende dag moedig probeer om aan te gaan, maar moes later die handdoek ingooi weens die pyn.

“Ons het daarna eintlik goeie vriende geraak en ek glo ek het gehelp om hom uiteindelik sover te kry om Stellenbosch vir Johannesburg te verruil. Dit is waar die aksie was en toe hy uiteindelik dié stap geneem het, het sy loopbaan van krag tot krag gegaan.

“In 1987 het hy en Mark Beneke die Goudstad vir België verruil waar hulle vir die ADR-span gery het. Dieselfde span vir wie die Amerikaner Greg LeMond in 1989 gery en sy derde Tour de France-titel verower het toe hy in die epiese laaste skof ‘n agterstand van 52 sekondes op die Fransman Laurent Fignon in die individuele tydtoets tot in Parys in ‘n toersege van slegs 8 sekondes omskep het.

“Met Suid-Afrika se amptelike hertoetrede tot die internasionale sportarena in 1992, het hy in 1994 in Kanada die eerste medalje vir Suid-Afrika by die Statebondspele losgejaag toe hy brons in die padwedren verower het.

“Hy is daarna op onverklaarbare en selfsugtige optredes deur die destyds Suid-Afrikaanse Fietsryfederasie (SAFF) uit die span gelaat vir die Olimpiese Spele in 1996 in Atlanta, wat ook ‘n vroeë beëindiging van sy loopbaan beteken het. Op 34 het hy nog baie gehad om te bied, maar die outokratiese manier waarop hy hanteer is deur ‘m klomp ego-honger beamptes het hom laat besluit genoeg is genoeg. (Lees binnekort meer daarvan in die boek wat ek en Chris Willemse eersdaags die lig sal laat sien oor die geskiedenis van Suid-Afrikaanse fietsry.)

Hy het daarna ook as sakeman ontpop en ‘n uiters suksesvolle besigheid in Bellville op die been gebring. “

Olla was waarlik ‘n legende!

Andries (Olla) Olivier (1963): 2/7/1944 – 27/7/2024

Andries Olivier, beter bekend as Olla vir sy 1963-matriekmaats asook sy wye vriendekring veral in die wynbedryf, is op 27 Julie 2024 oorlede.

Olla se spoor sal lank sigbaar bly en in herinnering geroep word.  Hy was ‘n lewenslange passievolle ondersteuner van Paul Roos Gimnasium, sy ou alma mater en menige oud- en jong Paul Rooser sal sy rysige figuur wat al effens geboë was, langs die Markötter-rugbyveld onthou. 

In die SA wynbedryf is daar baie wynmakers van naam wat Olla as ‘n mentor en rolmodel sal onthou.  Hy het nie verniet as gerekende wynkenner en grootmaat-wynhandelaar in 2022 die Veritas Vereniging se Lewende Legende Oorkonde ontvang vir sy jarelange bydrae aan die SA wynbedryf nie.

En miskien beskryf die woord legende, Olla ten beste. Iewers is geskryf:

A legend is someone who leaves behind an unforgettable impression on others. They touch lives, they’re remembered, they’re cherished. There are all sorts of legends in this world – famous or not. Becoming one means finding your particular role, your calling, following it, and touching others around you.”

Op 80- jarige ouderdom het Olla dit steeds gedoen.

Olla was ‘n goeie vaandeldraer van ons alma mater se leuse: Semper Splendidior, en sy storie sal onthou word deur sy 1963-klasmaats.

Theo Mey (1963)

Vader van vele Old Boys oorlede

Uitnodiging na die onlangse gedenkdiens vir wyle Coenraad Calitz (1932-2024).

Coenraad Calitz, wat 6 September 2024 in die ouderdom van 92 oorlede is, was nie self ‘n Old Boy van Paul Roos Gimnasium nie, maar het sewe seuns en twee kleinseuns gehad wat wel is.

Read more: Vader van vele Old Boys oorlede

Die seuns is Andries (1976), Steun (1977), Tertius (1980), Hanno (1982), Werner(1986), Nico (2009) en James (2011). Die kleinseuns is Carel (2008) en Luca (2020).

Die sewe seuns verskyn hier in ‘n koerantknipsel van circa 2010.

Boonop was sy tweede vrou, Anita, jare lank departementshoof van fisiese wetenskap aan die skool en later ook in beheer van die laboratoriums.

Oom Coenie, wat ‘n lang loopbaan as dosent aan die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universteit van Stellenbosch gehad het, het die skool oor die instandhouding van geboue geadviseer.

By ‘n massa-reünie in 2016 om die skool se 150ste bestaansjaar te vier, is  Coenraad Calitz deur die Old Boys met ‘n spesiale feesdas vereer.

By dié geleentheid het hy volgens ‘n berig op Netwerk24 gesê hy is nederig en dankbaar dat hy met al sy seuns en kleinseuns om een tafel te sit. Paul Roos Gimnasium het hom gehelp om vir sy seuns en kleinseuns waardes te leer. “Dit is ‘n skool uit een stuk!”

Lees die volledige berig hier.