Edition / Uitgawe Jun 2020

Radiopraatjie onthul heelwat oor die mens Paul Roos

Paul Roos was ‘n stoere man met karaktertrekke soos opregtheid, eerlikheid, regverdigheid, godsdienstigheid, beleefdheid en ‘n goeie humorsin, maar hy het ook twee eienaardighede gehad wat hom net nog meer geliefd gemaak het: hy was ingedagte en byna nooit betyds nie!

So vertel Justus van der Spuy van Hermanus in ‘n radiopraatjie wat hy met die legendariese sportkommentator AW Labuschagne gedoen het. ‘n Afskrif van dié praatjie is in die OSU -Nuusbrief van Februarie 1977 geplaas. Ongelukkig kon daar nie ‘n datum gegee word waarop dit in die program Sport Padlangs uitgesaai is nie.

Justus het soos volg vertel:

Paul Roos was ‘n man se naam. Aangesien ons ons sport en politiek ken, sal meeste van ons sportvriende hom onthou as die stoere kaptein van die 1906 Springbok-span na Engeland en baie later weer as Parlementslid vir Stellenbosch. Altyd op die voorgrond, altyd doenig, vol uitbundige geesdrif – ‘n gebore leier en altyd ‘n “gentleman”.

Graag wil ek vir ons jong sportvriende ‘n sketsie van die mens gee soos ons hom as skoliere en later as jong studente as raadgewer en vriend leer ken het. Die wêreld is aan die verander, maar manne soos Paul Roos se lewenswyse kan deur die jare wat voorlê vir ons almal as voorbeeld en inspirasie dien.

In die skool was hy baas en ons was verbrands versigtig vir hom. Elke nuwe seun is deur hom na sy kantoor geroep en daar op geen onsekere manier vertel wat van hom as leerling van sy skool verwag word nie. Die groot, donker mens, sy forse stem het menige broekspyp laat bewe. Hy het net een keer gepraat en daarna was dit ses van die beste.

Pak kry was ook ‘n roetine: vingerpunte op die tone en daar moes hulle bewegingloos bly tot die laaste van daardie donderskote klaar op jou sitvlak geklap het. As ‘n seun nie die loesing soos ‘n man kon staan nie, was Oom Paul bitter gegrief en het so gesê – al moeilikheid was dat die sterk mens nie besef het hoe verbrands hard hy onwetend geslaan het nie.

Wat dan was sy uitstaande karaktertrekke en hoe het hy dit uitgeleef?

Eeerstens, sou ek sê, sy opregtheid en eerlikheid. ‘n Mens mag nie lieg nie, jou beloftes moes jy nakom en jy moes jouself wees – huigelary en aansit kon hy nie veel nie.

‘n Mens moes godsdiens hê – Paul Roos het dan ook soggens op die verhoog voor sy staf en sy seuns met sy Godheid man tot man gesels. Die bulderende stem het nooit gesmeek nie: hy het feite gestel, tekortkominge aangestip en aan die uitdrukking op sy gesig kon jy sien hy verwag dat “die grootste SPORTMAN van almal, sal hoor en verstaan en sal help regmaak wat verkeerd is”.

In die groot saal het die honderde seuns en staflede eerbiedig en verbysterd gesit terwyl die stoere mens beloftes gemaak het, wat hy eerstens homself, natuurlikerwys, en tweedens ons, of ons nou wil of nie, stiptelik sou nakom.

Sy derde groot karaktertrek was sy regverdigheid. Hy was die regter in alle geskille. Die groot swartkop effens gebuig, weg van die een massiewe koolblaar van ‘n oor, wat een of ander karnallie vir hom op die voetbalveld doof geskop het. Aandagtig sou hy luister, sy helder oë stip op joune gerig. As jy sou wegkyk of oë laat sak, was hy klaar agterdogtig.

Alle getuienis ingewin, word die vonnis uitgespreek – albei tevrede – kort prekie oor menslike tekortkominge – ses van die bestes aan die skuldige – ‘n groot breë glimlag – ‘n vriendelike stamp tussen die blaaie van die onskuldige, wat hom gewoonlik ‘n paar tree laat steier – hande skud – met hom ook – en die saak is oor vergewe en vergeet.

Vierdens sy sin vir humor. Hy het nie tyd gehad vir onsin nie, maar kon ‘n goeie grap geniet. Hy was lief vir die onnutsige seun wat skoon fratse kon uithaal en self een kon staan. En as die Oubaas die slag gelag het, het die buldering die jong tortelduiwe in die bome agter die skool heeltemal van stryk gebring.

So het hy die een dag gelag toe hy sewe van ons matrikulante kaal in die swembad gevang het. Ons onderwyser was siek en Meester Polla het ons gewaarsku om op ons eie stil in die klaskamer te studeer. Dit was warm. Ons het uitgesluip en gaan swem in die universiteitsbad langs die skool. Daar het hy ons nat en al kom kry – die sewe kales in ‘n ry en sonder meer gekasty. Met eens sit hy soos hy lag. Ons het die seer en kaal boude toegehou en hom skugter-verbaas aangestaar. “Magtie,” sê hy, “ Jannie, ek het ‘n perfekte tennisnet op jou agterwereld geteken.” Alles was oor en weer vergewe.

Paul Roos was ‘n beleefde man teenoor almal, ongeag kleur of geslag. Dit was deel van die lewenswyse op die dorp om die groot man op sy fiets met sy boeke en bagasie en papiere te sien sukkel om die hoed by te kom om vriendelik te groet. Hy het so meer as een keer onklaar gekom met sy ryding – skamerig geglimlag – net om die volgende oomblik weer in die syvoortjie te beland.

Hy was ‘n sportman in die volle sin van die woord. Voetbal was sy eerste liefde – as hy tyd kon kry het hy ook kom help brei. Hy het nooit ‘n lat gebruik nie. Hy het soos ‘n groot leeu saamgespeel en gewys. Die mens het sy eie krag nie geken nie en was dan altyd verbaas as hy in die voorry van die skool se tweede span stoot en die eerstespanskrum sak inmekaar. Kla oor seerkry of verloor, onkonstruktiewe kritiek op medespelers of ‘n skeidsregter in sy teenwoordigheid het hy nie geduld nie. Inteendeel, dit het sy woede laat losbars. Skoon speel en hoe harder hoe beter, met spangees en skoolgees – en as jy verloor, loop jy oor na jou opponente en sê “julle was vandag die beter span”.

Toe ons puik o17-span van 1932, gebrei deur wyle mnr Japie Rossouw, die Oubaas se kampioenskool-eerstespan van die jaar twee keer agtermekaar uitgestof het, het hy ons hele o17-span volkleure toegeken. Hy was verbaas oor wat gebeur het, maar moes vir weke die beentrekkery van sy staf verdra, en vir Japie Rossouw het hy op slinkse wyse geruime tyd vermy.

Ja, hy was ‘n man uit een stuk. Sy vriende was sy vriende. As hy by my vader aan huis as buurman kom gesels het, was die hele huis vol van hom – vol van sy vriendelikheid, opregtheid en die gulle lag. Drie huise van ons af het Oubaas Mark die gedoente gehoor en dan oorgekom om saam te kom gekskeer en gesels oor hul jong dae op Victoria-kollege.

Om dan op te som:

Ons het gesê hy was opreg, eerlik, regverdig en beleefd – ‘n godsdienstige mens met ‘n sin vir humor en ‘n sportman in die volle sin van die woord. Paul Roos het geen foute gehad waarvan ek weet nie: skoon en netjies op sy persoon, altyd deftig aangetrek, sterk wit tande, groot skoon naels soos pierings en die swart snor en ystergrys hare netjies geknip. Maar eienaardighede het hy wel gehad – veral twee waarvoor hy alom bekend en bemind was: hy was ingedagte en tweedens byna nooit op tyd nie.

Twee insidente, een waarvan alle ou Stellenbossers weet, is bewys hiervan en ek vertel hulle graag weer oor.

In die ou dae het die Stellenbosse spanne per trein na die Kaap gereis vir hul wedstryde. Paul Roos het daardie trein altyd gehaal as dit al reeds halfpad uit die stasie was. Vriendelike stasiemeesters, kruiers en ander werkers het hom en sy goed deur die vensters gegooi. Sy spanmaats het by tye mooi en lelik met hom gepraat. Hy kon nooit ‘n rede gee waarom hy laat was nie, maar almal het geweet dat êrens op pad stasie toe het hy òf ‘n hond uit ‘n watervoor ghelp òf ‘n groentekarwyer ‘n perd help inspan. Hy was besig en as hy besig word, is hy laat – as hy daar kom waar hy moes wees, sou hy wel sy plig doen en almal sou verstaan.

So op ‘n dag dan met ‘n belangrike wedstryd wat voorlê, is almal in die trein, maar sonder die stoere vooros kon hulle nie Nuweland toe nie. Mooi praat met die stasiemeester – goed, tien minute sal hy wag, maar dan – Paul Roos of te nie – vertrek die trein. Nege-en-‘n driekwart minute later en daar kom die swart gevaarte op die fiets. Voor die stasiehekkie klim hy ewe haastig sommer in die ry af. Die trein fluit, ‘n vriendelike omstaander vang die fiets en deur ‘n treinvenster val hy bo-op sy spanmaats.

“Magtie kérels, vanmore was ek so ampers laat.” Mense wat daar was, sê dat daardie oggend sterk taal gebruik is, terwyl Paul Roos sy koerant ongeërg oopgemaak het om te lees.

Hy was ‘n gevaarlike motorbestuurder. ‘n Fiets kon hy nog hanteer. Hy sou maklik terwyl hy bestuur, die wiel los, omdraai en iets op die agtersitplek van die kar soek. Hy was al man wat ek gesien het vir wie diere instinkmatig van die pad af wegloop. Mev Roos het mooi onder ons gepraat om hom liewers veilig by plekke te gaan aflewer. Hy het na baie pratery naderhand ingestem dat hoewel hy persoonlik veiliger voel as hy self bestuur die nuwe reëling hom darem tyd sou gee om sy toesprake in die kar uit te skryf.

Een Saterdagoggend om 09:15 val hy my kamer binne. “Hier is die sleutels. Kry die kar – voetbalvergadering tienuur in Kaapstad en onderwyskonferensie tweeuur in die Paarl. Gou my, ou seun, ek wil net vir SP (van Wyk) nog iets vertel.” Weg is hy en weg is ek. Groot gelag en gebulder by SP se huis.

Eindelik in die kar vertel hy my ons is nou ietwag laterig en as ons by sy huis verby is (maw as mev Roos ons nie meer kan sien nie) moet ek maar effens vetgee – hy ken die verkeerspolisie in Bellville, Parow ens.

Ons was tien minute laat in Kaapstad. Die voetbalkantore was toe. Die vergadering sou om tweeuur plaasvind, maar die onderwyskonferensie in die Paarl, sou maar sonder ons Grootman moes klaarkom.

Hy het kop geskud en gelag – nou gou na die telefoon om verskoning te maak, êrens het iets verkeerd gegaan. Dit was Paul Roos.

Lesers is welkom om vir ons staaltjies oor hul onderwysers of klasmaats aan te stuur