Edition / Uitgawe Dec 2025

Bouwer se tragiese heengaan plaas kollig op kwesbaarheid van vegters teen korrupsie

Bouwer van Niekerk, ’n oud-Paul Rooser en seun van prof Anton van Niekerk, is onlangs in Johannesburg vermoor in wat owerhede as ’n doelbewuste sluipmoord beskryf. Sy dood het groot opslae gemaak en die regsgemeenskap diep geskok.

Bouwer, ’n gesiene prokureur in die veld van insolvensie en herstrukturering, is in
September 2025 in sy kantoor in Saxonwold, Johannesburg, doodgeskiet. Volgens die
polisie was dit ’n berekende aanval: niks is gesteel nie, en die moord het plaasgevind terwyl hy aan hoëprofiel-sake gewerk het, onder meer ’n groot insolvensiesaak wat aan ’n beweerde Ponzi-skema gekoppel is. Sy dood herinner aan die gewelddadige moorde op Cloete Murray en sy seun Thomas, wat ook die regsgemeenskap geruk het.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Herstrukturering en Insolvensiepraktisyns (SARIPA) het hul “diepste skok en verontwaardiging” uitgespreek en die aanval as ’n direkte aanslag op die regstelsel beskryf. Hulle het beklemtoon dat professionele mense hul werk sonder vrees of intimidasie moet kan doen. Verskeie leiers, insluitend die minister van justisie, het die moord veroordeel en ’n dringende ondersoek geëis. Bouwer se nalatenskap as ’n etiese, toegewyde regsman sal onthou word, en sy dood laat ’n groot leemte – nie net in die regsgemeenskap nie, maar ook onder sy oudskoolmaats en die breër Paul Roos-netwerk.

Sy tragiese heengaan plaas ’n skerp lig op die kwesbaarheid van regspraktisyns wat korrupsie en georganiseerde misdaad trotseer. Vir die Paul Roos-gemeenskap is dit ’n oomblik van rou en herinnering: ’n oudleerling wat sy loopbaan aan regverdigheid gewy het, het sy lewe verloor omdat hy sy werk met integriteit gedoen het.

Lees die Netwerk24 artikel hier