Vars nuus oor die opwindende Houtbrugprojek langs Suidwalweg voor Paul Roos Gimnasium, is dat die volle R600 000 wat daarvoor benodig is, suksesvol ingesamel is. Danksy ruim skenkings kan konstruksiewerk vroeg in die nuwe jaar begin, onder leiding van die Stellenbosch Trail Fund (STF).
Met dié verbinding sal die huidige onderbreking in die stap – en fietspad oorbrug word en ’n veilige alternatief bied teenoor die gevaarlike verkeersvloei. Die projek is van groot belang vir skoliere, sowel as inwoners van die ouetehuise Utopia en Azaleahof, wat daagliks hier stap.
Die bruggie voltooi die wandel- en fietsroete tussen Die Boord en Mostertsdrift en sluit aan by ’n dekade lange transformasie van die Eersterivier in ’n omgewingsvriendelike en toeganklike gebied vir inwoners en toeriste.
Die Stellenbosch Munisipaliteit het vroeër vanjaar die planne goedgekeur en onderneem om die bestaande paadjies aan te pas om by die houtpaadjie aan te sluit. Enige bome wat gedurende die konstruksie verwyder moet word, sal met inheemse spesies vervang word, met advies van Schalk van der Merwe.
Omdat geen voorsiening vir die beraamde koste – R548 500 vir konstruksie en R50 000 vir ingenieursdienste – uit die munisipaliteit se kapitaalbegroting gemaak kon word nie, is die projek as ’n gemeenskapsinisiatief gehanteer en is daar op skenkings van instansies en individue staatgemaak. Die munisipaliteit het wel onderneem om die toekomstige instandhouding van die bruggie uit sy bedryfsbegroting te hanteer.
STF se projekspan bestaan uit Ernst Gouws (STF), Frans van Niekerk (skole), Hans Heuer (bemarking), Jacques de Villiers (PRG Oud-Skoliere), Hugo Truter (kommunikasie), Lucas Louw (ingenieur, Bart Senekal Konsult Ing) en Dup Venter (sameroeper).
English Summary
The Stellenbosch Trail Fund has successfully raised the estimated R600,000 needed for the Boardwalk Project, an 80-metre wooden walkway along Suidwal Road at Paul Roos Gymnasium to improve pedestrian and cyclist safety. Construction will start early in the new year and will complete the riverside route between Die Boord and Mostertsdrift, benefiting school learners, retirement home residents, and the wider community. Approved by the Stellenbosch Municipality, the project will replace any removed trees with indigenous species, while day-to-day maintenance will be handled municipally. As the municipality has not budgeted for construction, the initiative relied on community donations, with contributions over R100,000 acknowledged by nameplate recognition.
Met hierdie collage kry die leser ’n goeie idee van die huidige situasie en hoe dit met ’n houtsypaadjie verbeter gaan word.





