Edition / Uitgawe Dec 2025

Lentelopers filosofeer oor klippe, kluite en knieë

Kan ‘n mens twee keer op dieselfde kluite en klippers trap?  Indien jy nie jou oë oopmaak en jou oogklappe skuif nie, is dit seker moontlik.  Party van ons het eers met die tweede stap raakgesien dat daar meer Rooielse as Geelhoute op die Geelhoutroete is.

Geen twee stappe is dieselfde nie.  Vanjaar se Lenteloop op 18 Oktober was nie ‘n uitsondering nie.

Namate mens iets onder die knie kry, behoort dit mos makliker te gaan.  Maar vir sommiges wat al aanstap in stappe word die opstap, eiegen-aard-ig genoeg, egter makliker en die afstrap moeiliker.  Die nuweling wat op sy ‘moedersknieg saamgestap’ het, sal dalk  eers met verloop van tyd, wanneer hy homself op foto’s herken, onthou dat hy in 2025 ‘n gedeelte van die Geelhout gestap het sonder om op ‘n klip te trap.

Die twee roetes (Geelhout en Sosys) was hopelik vir al die saamstappers nie net nog ‘n roetine nie, maar ‘n nuwe roete.  Vir sommige ‘n nuwe ou roete.  

Danie van Niekerk (1973)