
Vanjaar was dit 45 jaar sedert ons 1980 matriekgroep vir die laaste keer ons skoolklere uitgetrek het. Dit voel soos gister wat Sparks ons laat bloed sweet het (en maniere geleer het!), Bom Booysen en mnr de Vries die hel uit ons geslaan het en tant Fith so hard probeer het om liefde vir lees by ons te kweek.
Dit is seker nie vreemd dat daar op ‘n 45 jaar reünie maar redelik min gepraat is oor wat oor die afgelope 45 jaar in elkeen se lewens gebeur het, daar was baie meer gesels oor ons skooldae en wat daar beplan word vir die toekoms. Party van ons het al afgetree en dalk ‘n motorfiets of aftreeplek gekoop, ander is weer bittereinders, wat verkies om nog vir jare dieselfde werkspad te bly loop. Ou vriendskapbande is weer gesmee, tot met sommige wat ons OSU al lankal as “deceased” gemerk het!
Baie dankie vir klasmaat Marius Roux, wat ons gasheer was op sy plaas Somerbosch. Dankie ook aan ons nuwe rector, Jannie de Villiers, wat met ons kom praat het oor ons skool se onlangse prestasies (verstommend!) en uitdagings.
Dit was interessant om te hoor hoe leerlinge deesdae gekeur word om ‘n graad 8 plek te bekom by Paul Roos. Net een uit ses aansoekers is suksesvol (1 500 aansoeke jaarliks vir ‘n maksimum van 250 plekke) en die gevoel was dat as die keuring so streng was vir 1976 se PRG inname, baie min van ons vandag hier as oud Paul Roosers sou gestaan het!
Oor vyf jaar is dit ons groot halfeeu reünie en dit beloof om ‘n groot geleentheid te wees. Ons hoop is om weer baie van julle daar te sien. Volg gerus ons Facebook groep (Paul Roos 1980 Matrix) en WhatsApp groep tot ons weer sien.
Gerhard Gilomee (1980)


