Edition / Uitgawe Jun 2017

Paul Roos se heel eerste hoofseun

In Memoriam

Wouter Jordaan (klas van 1952), ook bekend as Tampan Jordaan, volle name Wouter Hugo Naudé Jordaan (die bekende skilder Hugo Naudé was sy ma se oom) is op Saterdag 3 Junie oorlede. Hy was die skool se eerste hoofseun, ′n instelling begin deur sy destydse rektor AK de Jager in 1952, wat toe ook die eerste leerlingraad laat verkies het. Hier is ′n uittreksel uit ′n artikel deur Nic de Jager in die OSU-nuusbrief van Augustus 2011 oor hom na aanleiding van ′n besoek aan die skool toe sy jonger broer, Pieter (Klein Tampan) oorlede is, self ′n bekende oud-rugbyspeler en Matie-kaptein.

“Die bynaam, waar kom dit vandaan?” wil ek weet.

“Destyds in Prima, “ sê hy, “was dit ′n tradisie dat alle nuwe faggies binne die eerste week ′n bynaam kry. En die Oumanne het gespesialiseer in die gee van simpel name. Toe word ek Tampan.”

Net vir diegene wat die woord nie ken nie, ′n tampan kan of ′n Indonesiese materiaalvierkant wees, of, soos in hierdie geval, ′n hoenderluis, wat dikwels ook op beeste en ander diere aangetref word.

“As jy ′n faggie in Prima was en jy’t kwaad gedoen, het die Oumanne ′n blaar uit die aalwynbos gepluk, die dorings afgesny en dit in jou mond gedruk. Jy moes kou en nie opkou kou voor een van die Oumanne gesê het jy mag nie”.

Wouter behaal sy LLB in 1958 in Maties, werk vir ′n jaar of ses vir die Prokureur-generaal as staatsadvokaat en word ná 1964 ′n praktiserende prokureur in Kuruman, waar hy ook afgetree het.

In 1960 trou hy met Toeks Botha, en ′n dogter en drie seuns word uit die huwelik gebore. Toeks is ook al etlike jare oorlede.

Wouter Jordaan