The first Interschools Formal Dinner on Thursday 15 August this year did not only succeed in its aim to raise funds for rugby development at Paul Roos Gymnasium, but also provided first class entertainment in the form of a panel discussion between Old Boy Springboks from both PRG and Grey College and an auction of rare items. This event was the culmination of months of hard work and is hopefully here to stay on the annual calendar. Francois Schoombee, chair of the Old Boys Rugby Subcommittee, tells the story:
Op Donderdagaand 15 Augustus 2019 is die eerste formele Interskole-dinee in die Paul Roos Sentrum gehou. Die doel met die dinee is om geld in te samel vir rugby-ontwikkeling by Paul Roos en om die aand meer suksesvol te maak, is besluit om ook Grey Kollege se Old Boys en ondersteuners en hul metgeselle uit te nooi.
Die 500 gaste het nie net puik kos en drinkgoed geniet nie, maar kon ook deelneem aan ‘n paneelbespreking met Springbok Old Boys van albei skole en ‘n veiling met skaars items.
Die dinee is gereël deur die Oudskoliere-rugbysubkomitee, wat reeds in Januarie 2019 begin het met die beplanning van die geleentheid. Karien Winter is as die “events manager” aangestel en onder haar leiding is daar hard gewerk om van die dinee ‘n spog-geleentheid te maak.
Terwyl van die komiteelede besondere oortuigingswerk aan die dag moes lê om veilingitems in te samel, moes ander die tafels aan Old Boys, ondersteuners en ouers bemark. Drie hoofborge word verkry, Old Boys-wynmakers stel hul wyne beskikbaar, en plaaslike kunstenaars willig in om hul kunswerke uit te stal.
Tussendeur is die spyseniering en dekor vir die aand te beplan.
Matthew Pearce het ingewillig om die “master of ceremonies” te wees en onder die eregaste was prof Wim de Villiers, rektor van die US, asook die skoolhoofde van die twee skole.
Na ‘n paar verwelkomingsdrankies en ‘n formele verwelkoming deur die rektor, mnr. André van Staden, was dit Matthew se taak om die paneelbespreking tussen die gange van die ete te lei. Aan Paul Roos se kant was daar oud-Springbokstut Cobus Visagie en -vleuel Justin Swart, albei lede van die onoorwonne Paul Roos-span van 1991, en Grey word deur Ollie le Roux, Philip Snyman en Werner Swanepoel verteenwoordig. Ollie, wat gewoonlik baie te sê het, word oorskadu deur Cobus, wat die gehoor inlig van hoe jy eintlik ‘n Grey-span klop!
Die veiling volg na die ete en onder die items waarop gebie word, is daar ‘n eksklusiewe safari/jagpakket in Zambië, ‘n Leopard Creek gholf-uitstappie met verblyf, romantiese wegbreekpakkette, getekende eerstespantruie van PRG en Grey, eksklusiewe wyne en ‘n Grey Old Boy rugbytrui geteken deur hul Springbok-kapteins. Manne, ondersteun deur hul vroue, het diep in hul sakke gegrawe en die items word met groot sukses van die hand gesit.
Daar is tot laat in die aand nog gekuier en meeste is huis toe met die wete dat hierdie Interskole-dinee ‘n permanente inskrywing op Paul Roos se kalender gaan word, elke tweede jaar wanneer Grey Kollege Stellenbosch besoek.
Groot dank aan al die Old Boys, ouers en ondersteuners wat die dinee ondersteun het, al die hoofborge, Karien Winter vir haar leiding en insette en laaste maar nie die minste nie elke lid van die Old Boys-rugbykomitee vir hul harde werk en toewyding om die dinee moontlik te maak.
Vir foto’s van die dinee, kliek op die skakel:
https://drive.google.com/drive/folders/1zlPxVCrkeqvbo9WM992elHrZdUOhNfc
Francois Schoombee
Voorsitter: Old Boys-rugbykomitee
