Edition / Uitgawe Nov 2019

Etienne van Heerden se jongste roman ʼn “era-definiërende” boek

Etienne van Heerden (1972) het onlangs in Stellenbosch voor ʼn stampvol gehoor sy 14de roman bekend gestel: Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Wat kan jy verwag van een van Paul Roos Gimnasium se mees bekroonde skrywers? Sy uitgewer Tafelberg beskryf hierdie lywige historiese riller-roman soos volg:

Prokureur Ian Brand stuur ʼn ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ʼn kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. En al hoe gereelder slaan ’ʼn kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar “die waarheid” klaarblyklik ʼn onhaalbare ideaal is.

En wat sê die lesers:

Mense, daar kom maar een keer in ʼn geslag so ʼn era-definiërende boek verby. As jy ons tyd in ons land en in die wêreld wil verstaan, die mens afgeteken teen groter kragte as sigself (maar nietemin mensgemaakte kragte), kry jy dit in hierdie roman deur Etienne Van Heerden in pakkende storievorm. ʼn Skrywer op die kruin van sy vermoëns.”
– Frederik de Jager

Etienne het met graagte ʼn eksemplaar vir Mariena Kotze van die Argief geteken.