Die Covid-19-virus lê tans die land en die wêreld lam en eis toenemend lewens.
Ietwat meer as ‘n honderd jaar gelede was die wêreld in die greep van ‘n H1NI-virus of ook bekend as die 1918 Spaanse Griep, wat deur kenners as die ergste in die geskiedenis van die mensdom beskryf word.
Volgens ‘n berig op die IOL-webtuiste het die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer beraam dat dié virus tussen 1918 en 1919 meer as 500 miljoen mense oor die wêreld heen geaffekteer het en tien present van hulle het oor ‘n tydperk van 24 weke gesterf.
Daar was geen entstof teen die griep of antibiotika vir sekondêre bakteriële infeksies beskikbaar nie en maatreëls wat ingestel is, het isolasie, kwarantyn, ‘n verbod op openbare vergaderings, goeie persoonlike higiëne en die gebruik van sanitiseerders ingesluit.
Die Stellenbosch Hoër Jongenskool het die Groot Griep nie vrygespring nie. Drie skoliere het gesterf. Selfs Paul Roos het siek geword, maar wel herstel. Die impak wat dié gebeure op die skool en sy mense gehad het, word gesien in die aandoenlike huldeblyke wat in 1919 in die Stellenbosch JHS Skoolblad verskyn.
In die huldeblyk vir LJ Coetzer word geskryf dat hy een van duisende volksgenote was wat ‘n slagoffer van die gevreesde Spaanse Griep geword het. Die skrywer voeg by dat talle jong mense deur die dood weggemaai is in die krag van hul lewens met ‘n mooi toekoms wat op hulle gewag het. LJ was ‘n ywerige student en daar was nie twyfel nie dat hy in die matriekeksamen goed sou vaar. Sy dood was ‘n groot skok vir sy vriende en familie. Tog meen die skrywer, dat LJ na sy dood ‘n navolgenswaardige voorbeeld gelaat het met sy hardwerkendheid, vriendelikheid en opgeruimdheid. Die verlies was ontsaglik, maar daar is die troos dat daar ‘n weersiens in die hiernamaals wag.
Piet Esterhuyse is aan die vooraand van sy matriekeksamen in 1918 oorlede, skryf Een Vriend. Hy was die eerste in sy huis om siek te word en het sodanig herstel dat hy met die versorging van ander huismense betrokke geraak en toe weer siek word. Piet word beskryf as vrolik, nederig en vredeliewend. Hoewel hy sterk op sy punt kon staan, was hy altyd bereid om na ander se argumente te luister. Op sy sterfbed het hy met oortuiging verklaar dat hy voorbereid is op die dood en geen vyand het nie.
Vir koshuismaats en familie van Johnny Giliomee was dit ondenkbaar dat sy naam op die lang lys van Griep-slagoffers in Oktober 1918 sou verskyn. “Ou Johnny” was deel van letterlik alles in hul bestaan, aan die studeer op die stoep van Secunda, laggende op die rugbyveld, kortom, waar hulle kom sien en hoor hulle hom, skryf GA Watermeyer. Met sy innemende maniere en wonderlike gemoedstoestand het hy vele rolle in baie mense se lewens gespeel. By hulle bestaan daar ‘n leë plekkie wat selfs die geduld van tyd trotseer om weer opgevul te word.
Skok, woede, meelewing, onderskraging en moontlik die belangrikste, die soeke na iets positiefs om ‘n donker tyd te oorbrug, dit alles vind ‘n mens in hierdie bydraes. Hopelik maak dit deel uit van die tradisionele waardes wat steeds by PRG nagestreef word.
