Rektor in my tyd as onderwyser by PRG
Ek was bevoorreg om in 1968 my eerste aanstelling as onderwyser by Paul Roos Gimnasium te kry. Dit was nie ʼn gewone prosedure nie en juis te meer is ek vandag nog die betrokke rolspelers uiters dankbaar vir hul bydraes om die aanstelling moontlik te maak.
Ek gee graag erkenning aan die rektor van destyds, mnr. Gert Smit, vir die vormende invloed op my denke en praktyk om my akademiese opleiding van toepassing te maak op die bedryf soos in ʼn staatskool van destyds.
Ek erken die bydrae van Pieter Kapp in die PRG 150 -gedenkboek, pp 62 tot 65. Ek sluit graag aan by die laaste sin van sy artikel: “Mnr. Gert Smit kan met ʼn dankbare hart gaan rus – die gees en karakter van die skool was op ʼn hoogtepunt.”
Ek probeer vervolgens beperkte inhoud aan die “gees en karakter” gee, soos vanuit my perspektief gesien.
My weergawe is een van ʼn onderwyser wat met sy eerste aanstelling met groot afwagting na sy hoof luister vir leiding. Dis my weergawe soos ek dit verstaan het tussen die amptelike aankondiging van sy beleid en opklaring daarvan in gesprekke met hom oor die betekenis daarvan en die toepassing in my rol as onderwyser. Dit sluit aan by my rol as onderwyser in Natuur- en Skeikunde en Wiskunde by PRG van 1968 tot 1973, my betrokkenheid by buitemuurse aktiwiteite en my rol as koshuisvader van Prima Nova in 1973.
Mnr. Smit se sienings het my verdere studie beïnvloed oor die opvoedingsrol van die formele skool en ook my standpunte in die opleiding van primêre onderwysers by die Onderwyserskollege Paarl.
1 Die begronding van sy beleid
PRG is ʼn formele, sekondêre onderwysinstelling wat die staat voorsien vir algemene onderwys tot met matriek waarna die leerders die arbeidsterrein en/of die tersiêre onderwys-vlak kan betree.
PRG kan, met verwysing na die amptelike kurrikulumvakke, as ʼn akademiese skool gesien word in vergelyking met, byvoorbeeld, ʼn tegniese skool. In terme van die onderwysfunksie moet PRG dus sorg dat dat leerders daar met die matrieksertifikaat beloon word.
Dit is eng as onderwysopdrag gesien, maar volgens mnr. Smit is daar in PRG ook ʼn opvoedende onderwysopdrag. Dit verwys na die bydrae wat die formele onderwys tot die kind se opvoeding moet maak. Dit is ʼn veeldimensionele opdrag waar benewens vakprestasies daar ook sprake is van karakterontwikkeling soos bv deursettingsvermoё, geduld, stiptelikheid, respek vir eiendom, gesag en menswaardigheid. Hy vereenvoudig die veeldimensionele opvoedingstaak tot die van selfstandigwording van die kind. In die PRG moet die formele leerervaring so bestuur word dat dit ook betekenisvol bydra tot die selfstandigwordingskomponent van elke seun. Dit beteken dat PRG moet bydra tot die praktyk dat Paul Roosers algaande meer eie verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar – gewoon om op eie bene te kan staan
Selfstandigheid moet nie verwar word met onafhanklikheid nie omdat alle mense altyd van iets of iemand afhanklik is, maar ʼn Paul Rooser moet leer om op eie bene te kan staan.
Dit is dan in die saamstap met die leerlinge in die unieke PRG situasie dat die onderwyser sy taak so moet uitspel en prakties moet beoefen dat hy/sy tot die optimale selfstandigwording van elke leerling moet bydra. Dit verwys na die vermoё en die wil van ʼn Paul Rooser om sy eie besluite te neem, dit uit te voer en daarvoor erkenning te kry.
2 Praktiese toepassings van sy beleid
2.1 Aspekte van die verhouding met die Kaaplandse Departement van Onderwys
- Verpligtinge van die Dept. van Onderwys se kant soos die byhou van Departementele Verslagboeke is amptelik afgewys. Verslagdoening is na die onderwysers betrokke by vakke en standerds (grade) toegewys vir bestuur van hul verantwoordelikheid met behulp van eie stelsels. Sy maatstaf hiervoor was dat indien die onderwyser onder die bus beland, die opvolger naatloos by die voorganger moet oorneem.
- Die informele druk van die Dept van Onderwys se kant op PRG om meer kandidate op die destydse merietelys van Matriekuitslae te hê, is afgewys ten gunste van die strewe na 100% slaagsyfer in Matriek.
- Die skool is gesien as ʼn instansie wat volgens sy kurrikulum, basiese kennis en vaardighede aanbied. Dit het groot meriete, maar ook tekortkominge, want leerlinge sal eendag beroepe beoefen waarvoor daar nie skoolvakke was of is nie. Moet dus nie die skoolprestasie in terme van die Matriekuitslag, oorbeklemtoon nie. Mnr. Smit het in PRG die twee praktiese vakke, hout- en metaalwerk ingevoer ten spyte daarvan dat die Dept. van Onderwys net een van die vakke per skool wou toelaat. Dis gesien as ewe belangrik en noodsaaklik vir ʼn seun se grootword vergeleke met die gewone akademiese vakke soos bv. Wiskunde en Natuur- en Skeikunde wat gewilde vakkeuses was.
2.2 Beleidsaspekte in die PRG ingestel om selfstandigwording te bevorder.
2.2.1 Die eindeksamen en tuiswerk
- Die matriekleerling moet aanspreeklikheid vir sy eie matriekuitslae aanvaar. Elke Paul Rooser-matrikulant moet dus die besluit neem en eie verantwoordelikheid vir sy matriekuitslag aanvaar en dit uitvoer!
- In opvoedingsverband is tuiswerk gesien as die geleentheid waar die leerling vry is van die opvoeder en selfstandig, eie verantwoordelikheid vir sy vaktaakoefening moet aanvaar.
- Die praktyk van tuiswerk en die onderwyser se rol as begeleier, is as volg ten opsigte van tuiswerk, neergelê:
- Kontroleer en voer gesprek oor tuiswerk op daaglikse basis, en sover doenlik individueel, tot en met st. 8 (gr. 10)
- Kontroleer tuiswerk van tyd tot tyd in st. 9 (gr. 11)
- Geen kontrole in st. 10 (gr. 12 )
- Gee in die klas geleentheid vir vrae oor tuiswerk
- Na-ure klasse op versoek van leerlinge met spesifieke vrae
- Geen ekstra klas of afrigting vir die eindeksamen nie.
- Maak ook leerlinge in jou vak bewus van waar die vak van toepassing kan wees na skool in tersiêre opleiding, maar ook in die bedryfslewe.
2.2.2 Die leiersrol van die matrieks en entrepreneurskap
- Die matriekklas moet sterk leiding neem in skoolsake met betrekking tot die leerlingsake rakende sport- en die verenigingslewe van die skool. Matrieks is leerlingraadslede en matrieks moet kapteins en voorsitters wees. ʼn Matriekleerling is as redakteur van die Semper en van die Jaarblad aangestel.
- Die leerlingraad, saam met hul leiers, kry Vrydae die geleentheid vir ʼn saalbyeenkoms soos wat die personeel dit op Maandae kry. Daar was net een vereiste van die rektor se kant af. Daar moet ʼn musiekitem wees waar die musiekdepartement sy onderrig na die hele skool uitbrei en waar ons eie leerlinge òf op hul eie òf saam met gaskenners/kunstenaars van buite móét optree.
- Daar was ʼn jaarlikse leerlingbasaar. Die verskeie klasseksies moet self hulle tafel beplan en deelneem om verkoopbare items op die tafel te verkoop en /of per veiling aan te bied. Fondsinsamelingsfunksies word vooraf aangebied. Die netto wins word inbetaal en die bedrag word dan per leerling van elke klasseksie bereken om die wenner te bepaal.
2.2.3 Uitstappies vir algemene kennis
- Op inisiatief van die klasonderwyser en/of voorsitters van verenigings, kan uitstappies aan die rektor voorgelê word. Na goedkeuring word die uitstappie gesubsidieer en georganiseer rondom verenigings en per klasseksie aan die einde van elke kwartaal. Ek onthou voorbeelde soos : Die Van der Graaff-versneller by Faure, die Ysterplaat militêre lugmagbasis naby Kaapstad, vrugte-uitvoer in die Kaapse hawe; verkoeling en verskeping, die tabakbedryf en die Rembrandt-sigaretfabriek in die Paarl.
2.2.4 Sportbeleid
- Spanne en individue word ingeskryf waar Paul Roosers goeie kompetisie ervaar en nie bloot gemaklik as bekerwenners aangewys sal word nie.
- In die kompetisie streef ons daarna om te wen en speel soos ʼn wenspan. As ons wen is ons beskeie daaroor, want ons weet ons sal nog aan ons prestasie moet werk. As ons nie wen nie, wens ons die wenners en hul afrigters geluk en laat die wenners met die wete dat hulle waarskynlik die beste span in die kompetisie gewen het.
2.2.5 Skoolpsalm
- Die geloofsgemeenskappe in die skool het, sover vasgestel kon word, almal die Bybel aanvaar. Psalm 121 is gekies as die skoolpsalm en is by geleentheid voorgelees. Sulke geleenthede was die saalbyeenkomste aan die einde van elke skoolkwartaal wanneer die kwartaal met ʼn saalbyeenkoms afgesluit is. Die rektor het almal ʼn aangename vakansie toegewens en ons weggestuur met die lees van: Psalm 121- Op pad .
- ʼn Spesiale geleentheid was die laaste saalbyeenkoms waar die matrieks gegroet is voor hulle matriekeksamen. Die skoolpsalm is gelees waarna elke matriekseun se naam gelees is en hy op die verhoog, iets as aandenking van die skool gekry het. Hy stap dan verder na die deur agter in die saal waar dit vir hom oopgemaak, hy deur ʼn vise-rektor gegroet word en die deur weer toegemaak word. As al die matrieks so vertrek het, skuif die graad 11-leerlinge vorentoe om die leemte te vul. Die nuwe leerlingraad word ingestel. So groet ons, maar betree dan ook ons nuwe toekoms.
Hoe beskou die eietydse rektor(e) die opvoedingrol van die PRG?
Met groot waardering
Niёl du Toit, Paarl, November 2020
