Edition / Uitgawe Dec 2020

My Paul Roos Gimnasium-ervaring (1973-1977)

Jacobus (Koos) van der Riet (1977)

Dit neem dalk dekades voor ʼn mens ʼn gebalanseerde waardasie van ʼn skoolervaring kan hê, om die goeie waarvoor ʼn mens blind was of as vanselfsprekend ervaar het, werklik te waardeer. Daar was destyds ook wel ʼn gesonde skeptisisme onder heelwat leerlinge oor alles wat hoog opgee en gevolglik was sommige van ons nie so opgewonde oor en trots op die PRG-handelsmerk as wat miskien vandag die geval is nie. 

Daar was ʼn sterk satiriese en uiters komiese aanslag in die skoolkoerant en onder die leerlinge, sodat ons nie die skool met al sy tradisies asook die staatspropaganda van die tyd al te ernstig opgevat het nie. Vermoedelik was die gees van die 1960’s nog in die lug. Ek het dit juis waardeer dat daar ruimte was vir sulke oënskynlik ondermynende bedrywighede onder die skoliere en dat ons daarmee kon wegkom. Waar elders in die land kon die vertrekkende matriekklas ʼn gepaste lied oor die interkomstelsel vir elke onderwyser speel, met dodelik akkuraatheid gekies? Dit was só snaaks. Maar dan, ons onderwysers het hul werk gedoen en was gewoonlik betyds op hul pos, was daar op Maandae en Vrydae, en kon kwalik van molestasie beskuldig word, soos so baie ander kinders deesdae in skole moet verduur. 

Daar was gelukkig ʼn aantal baie goeie onderwysers wat ruim van gees en groot van humor was, sodat ons heelwat kon lag tussen die geleerdery aan nuwe begrippe of ingewikkelde formules. Mnr. Underhay was byvoorbeeld my held, met sy droë opmerkings en natuurlike gesag in die wiskunde-klas, en so ook mev. Elize Fick wat eweneens die Latyn-klasse met haar majestueuse houding en Cleopatraanse sjarme  en spitsvondigheid oorrompel het.  En ja, sommige onderwysers was wel stout genoeg om hul oë te rol by die aanhoor van sekere interkom-aankondigings. Dit was dan seker by tye so te sê onafwendbaar, daar die teendeel bo-menslike selfbeheersing sou vereis het.

Natuurlik is dit die klasmaters wat ʼn mens die meeste bybly. My vriendekring was klein, maar baie  vermaaklik, en gelukkig behou ek kontak met baie van hulle. Die twee hokkietoere onder leiding van mnr. George Dock na die ou Rhodesië en Natal was vir my hoogtepunte, en die gereelde ritte Kaap toe vir krieket en hokkiewedstryde – die onderwysers het so baie van hul eie tyd opgeoffer vir hierdie ekspedisies.  Ek is helaas en seker tereg nie as ʼn moontlike aanwins vir die motorhuispartytjiekultuur beskou nie, en moes maar daarmee verlief neem dat ek geen uitnodigings in dié verband ontvang het nie (pun intended).  

Wat die tekeninge betref, het ek omtrent in st.8 skielik adekwate (dink ek) karikatuurkuns kon beoefen na minder geslaagde pogings voorheen. Net my humor was helaas nog erg onderontwikkeld en bra geforseerd. Dat karikature van onderwysers in die skoolkoerant toelaatbaar was, is natuurlik veelseggend. Waar elders in die land sou dit kon gebeur? 

Van die digkuns beoefen was daar by my op skool glad geen sprake nie, allesbehalwe, maar wel doelbewus en opsetlik melodramatiese Afrikaanse opstelle om trane te trek en sneesdoekies te bevlek, vir tragi-komiese effek. Ek skaam my net dat ek dié waardevolle tradise nie ook in die matriekeksamen kon volhou nie en ʼn vervelige relaas oor oorsaak en gevolg gepleeg het.

So ja, ek is dankbaar dat ek in Paul Roos Gimnasium (hoekom nie tog maar Hoër Jongenskool Stellenbosch nie?) was, ondanks die blywende skade aan my sosiale lewe. 

Ns. die boekies Sommige Stellenbossers darem en Gevierdes en Geveerdes is selfgepubliseerde pogings, en is nie aan uitgewers vir oorweging voorgelê nie, daar dit seker van beperkte belang is.