Edition / Uitgawe Jul 2021

Honoris Crux-ontvanger Michael Prins (1973) besef vandag beskermengele het na hom omgesien

Michael Prins (1973) se onverskrokke optrede tydens Operasie Savannah om ‘n makker te red, is onlangs weer in die geheue geroep toe Mariena Kotze van die PRG argief op sy verhaal in die boek Honoris Crux: Ons dapperes deur At van Wyk afgekom het.

Operasie Savannah was volgens Wikipedia die kodenaam vir die Suid-Afrikaanse Weermag se oorgrens-inval in Angola van Oktober 1975 tot Januarie 1976 om die uitkoms van die onafhanklikwording van dié land te beïnvloed. Dié poging het Amerikaanse steun geniet en is as teenvoeter vir Rusland en ander kommunistiese lande se rol beskou.

Tydens verskeie gevegte het 28 Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel, 100 is gewond en sewe is krygsgevange geneem.

In die Matieland van April 1977 word op bl.33 geskryf dat Michael Prins skaars 20 jaar oud was toe hy die dood getrotseer het deur sonder enige dekking na ‘n verwonde makker te beweeg en na veiligheid te dra terwyl die vyand dodelike, doelgerigte vuur op hom rig. 

Michael was toe as tweede luitenant in die SA Veldartillerie met drie maande verlengde diensplig besig. In dié tyd moes hy dikwels etlike dae alleen en sonder hulp of beskerming help om observasieposte te ontplooi. Daarvandaan bet hy dan waardevolle inligting oor vyandelike stellings en bewegings verstrek. 

By geleentheid is hy en sy seksie vasgepen deur vuur van vyandelike skerpskutters. Te danke aan sy besielende en versigtige leiding – ‘n gewonde makker ten spyt – het hulle daarin geslaag om te onttrek. Later is hulle weer aangeval en een van die manne onder sy bevel is ernstig gewond. 

Hulle het onbeskerm in Iyn van vyandelike vuur gelê, maar Michael het sonder aarseling en inagneming van wesenlike lewensgevaar na die gewonde beweeg en hom in veiligheid gebring onderwyl hewige vyandelike vuur om hom gewoed het. 

Volgens Michael, wat deesdae as ‘n bedryfsdirekteur in Stellenbosch werk, is dit moelik om na al die jare kommentaar te lewer.

“Die beskrywing van gebeure het my eintlik geskok, want ek het dit nie so dramaties ervaar nie. Die woorde wat die gebeure uiteensit, is baie beskrywend.

“Ek het gedoen wat ek opgelei was om te doen en wat ek glo meeste van my kamerade ook sou gedoen het onder dieselfde omstandighede? So, no big deal.

“Die gebeure in Angola waarby ek betrokke was, het my laat besef dat ons almal ons beskermengele het wat na ons omsien en dat dit nie so maklik is om dood te gaan nie. Jesus glo ek tot vandag toe beskerm my elke dag. You can only die once? I live by it. Daar is altyd two sides to a coin

“My belewenis van Brug Veertien, die slag van EBO, vlieg met ‘n Cessna oor vyandelike gebied om ‘n vasgekeerde veggroep te help met die rig van kanonvuur op vyandelike stellings, moontlike MIG-aanvalle op pad soontoe en terug , die rig van kanonvuur op Kubaanse stellings met ‘n observasiepos agter / midde-in Kubaanse linies, in ‘n vliegtuig te wees wat raakgeskiet word in ‘n poging om vyandelike stellings te identifiseer wat ons eie magte vaspen, verskil hemelsbreed van hoe ander dit ervaar het…

“Ek was bevoorreg om die ervaring te kon meemaak en sou dit weer doen. 

“Toe ek die weermag verlaat het, het my bevelvoerder my gegroet met iets wat my altyd sal bybly… en wat hy as ‘n ”probleem” beskou het, naamlik die volgende: Michael, jy kan enigiets doen wat jy wil doen! Dit bly een van my motto’s.

Michael en Zita Prins

Michael vertel hy is gelukkig getroud met sy skoolkys van 1973, Zita du Toit. Hulle het vier kinders, drie dogters en ‘n seun wat in Paul Roos gematrikuleer het. Hy en sy vrou woon in Kuilsrivier.