Edition / Uitgawe Apr 2022

Alex Aldrich ontpop as rugbyspeler op Harvard

Alex Aldrich (2018) het verlede jaar toelating gekry om aan die Harvard Universiteit in Cambridge, Massachusetts, in die VSA te gaan studeer. Hy het reeds die tweede jaar van sy MBChB-studies aan die Universiteit Stellenbosch afgehandel toe hy op ’n dag besluit het om aansoek te doen by Harvard – en toe bo verwagting toelating kry.

Harvard is die oudste instituut vir tersiêre onderrig in die Verenigde State en een van die toonaangewendste ter wêreld. 

Alex was ’n prefek by Paul Roos en was bekend vir veral sy bydrae tot kultuur op die kampus – hy was ’n ywerige debatteerder, het musiek as vak geneem en in die koor gesing. 

By Harvard kry hy deesdae tyd om te midde van ’n oorvol akademiese program rugby te speel!

Dexter Labuschagne het hom opgespoor en hom per e-pos ’n paar vrae gevra.

Presies wanneer het jy by Harvard aangeland?

Vrydag, 26 Augustus 2021.

Watter kursus volg jy by Harvard? 

By Harvard skryf jy nie in vir ’n voorafbepaalde kursus nie. Jy moet teen die einde van jou tweede jaar se eerste semester ’n hoofvakrigting kies (hulle noem dit ’n concentration) soos wiskunde of geskiedenis of ekonomie, en elkeen van hierdie hoofvakrigtings bestaan uit spesifieke vakke wat jy moet neem voordat jy gradueer. Jy verklaar ook ’n secondary (’n tweede vakrigting). Die vakke wat vir jou concentration en secondary tel, maak ’n derde uit van die totale vakke wat jy neem tydens jou vier jaar op kampus. Die ander twee derdes bestaan uit vakke wat Harvard van alle studente vereis – soos expository writing en general education – en vakke uit enige vakgebied wat jou interesseer. Dit is hierdie vryheid om so baie vakke te neem wat buite jou hoofvakrigting val wat my in die eerste plek na Harvard aangetrek het.

Ek oorweeg dit om neurowetenskap as my hoofvakrigting te kies, met rekenaarwetenskap as my tweede vakrigting. Ek wil ook my pre-mediese vereistes voltooi (die vakke wat deur mediese skole vereis word vir toelating) met die oogmerk om my mediese studies voort te sit nadat ek gegradueer het.

Van wanneer af speel jy rugby?

Ek het in Graad 7 vir ’n jaar lank gespeel, en toe een oefening in Graad 11 saam met die Honde bygewoon, maar dit was al. Hierdie jaar was die eerste keer dat ek oefeninge bygewoon het en wedstryde gespeel het.

Wat het jou laat besluit om te begin rugby speel, en hoe vinnig het jy dit aangeleer? 

Ek wou aan die een of ander spansport deelneem, en ek het gedink dat rugby ’n goeie uitlaatklep sou wees te midde van die al die toetse en take. Maar die hoofmotivering was dat rugby my sou herinner aan waar ek vandaan kom omdat dit so ’n integrale deel is van ons Afrikaanse kultuur.

My hantering en “tackling” was maar power tydens die eerste paar oefeninge en ek het toe ook vir die eerste keer geleer wat die presiese reëls vir ’n losskrum is. Ek het gou besef hoe meer jy speel, en hoe meer die afrigter op jou skree wanneer jy onkant is, hoe meer begin jy die reëls na ’n ruk verstaan sonder om te veel daaroor te dink.

In watter posisie speel jy, en hoeveel wedstryde het jy al gespeel en teen wie?

Ek speel agsteman. Ons het verlede jaar so agt wedstryde deur die seisoen gespeel vanaf September tot middel November. Ons hoofwedstryde was teen Yale, Brown, Dartmouth, en Columbia. Ons belangrikste opponent is Yale, en ons het hulle gelukkig oortuigend geklop.

Is jy nog betrokke by musiek? Sing jy byvoorbeeld in ’n koor of so iets?

Ek het onlangs toegang gekry tot die musiek-ateljee op kampus, so ek sien baie daarna uit om liedjies daar te begin opneem – dit was nog altyd my droom om ’n volle album op te neem. Ek is nie op die op oomblik lid van die koor nie.

Neem jy nog deel aan debat?

Nog nie, maar ek sien baie uit om volgende semester te begin. Harvard se debatspan doen elke jaar ’n wêreldtoer, en daar is ’n goeie kans dat die span Kaapstad besoek. Dit sal opwindend wees as ek deel van die span kan wees wanneer dit gebeur.

Hoe vergelyk die lewe by Harvard met die lewe hier op Stellenbosch?

Dit verskil besonder baie in sekere opsigte, maar dis ook baie dieselfde in ander. Die hoofverskil is dat komitees (of soos dit by Harvard genoem word, “clubs”) baie meer funksies en aktiwiteite organiseer. Nie net is die klubs meer gestruktureerd nie, maar daar is ook ’n baie groter verskeidenheid – of dit nou beleggings, diepseeduik, of middeleeuse geskiedenis is, jy sal jou stokperdjie hier vind, en as die klub van jou keuse nie daar is nie sal daar mense wees wat jou help om dit op die been te bring.

Studente hier by Harvard is baie meer gefokus op wat hulle gaan doen nadat hulle klaar gestudeer het. Die meeste studente reël lank vooruit internskappe vir hul somervakansies met die oogmerk om by daardie maatskappye te gaan werk nadat hulle gegradueer het. Die klubs spesifiek bied konneksies met mense in die praktyk en skep uitsonderlike geleenthede.

Maar Harvard stem meer ooreen met Stellenbosch as wat dit daarvan verskil. My idee van Harvard-studente was dat wanneer ek met iemand praat, die gesprek sonder uitsondering hoogs akademies van aard sou wees. Maar ek het gou gedink dat Harvard-studente maar ook net tipiese studente is. Ons praat oor sport, oor verlede Saterdag se partytjie, en oor alles tussenin. Almal is net baie hardwerkend agter die skerms. Maar, soos dit met enige gewone student gaan, besef ’n mens skielik op ’n dag dat daardie twee weke voor die inleweringsdatum BAIE vinniger gevlieg het as wat jy besef het, en dat jy jouself vir die duisendste keer om twee-uur die oggend in die biblioteek bevind om saam met jou vriende die taak af te handel.