Edition / Uitgawe Oct 2022

Lenteloop op Erfenisdag was ‘n bydrae tot natuurerfenis

Deelnemers aan die Lentelope wat 50 jaar gelede op verskeie plekke in Suid-Afrika gehou is, het medaljes ontvang vir hul prestasies. Die hoofmotief van die Departement van Sport en Ontspanning toe was waarskynlik om deelnemers aan te spoor om fikser te word.

Paul Roosers van die Societas klub het saamgestap: Dieter de Kock, William Whitehead, Joshua Coetzee, Daniel Whitehead, Jordan Bekker, Nicholas Kelbrick, JP Mans, Stephanus de Kock.

Toe ‘n groep Old Boys van PRG besluit het om die Lentelope verlede jaar te laat herleef, was fisieke aktiwiteit in die buitelug beslis ‘n oorweging, maar nie die hoofoorweging nie. 

Aangesien die roete van die PRG-Lenteloop in 1971 die sirkelroete in Jonkershoek was, was dit gepas om weer dieselfde roete te stap. “To take a trip down memory lane” – letterlik en figuurlik. 

Sommige van die deelnemers wat strawwe oefening verkies, het die volle roete gestap teen ‘n baie vinnige tempo, terwyl ander die helfte of slegs ‘n gedeelte van die roete gestap het en so, al wandelende, die geleentheid van 50 jaar gelede herdenk het.

Die Lentelooptradisie word simbolies van die vorige geslagte na die huidige oorgegee: van links die jonge, Dieter de Kock, Nols Heunis (1973), Willem Botha (1970) en James Joubert (1958).

Een van die ander bedoelings van die lentelope in die huidige formaat is om ‘n klein bydrae te lewer tot ons natuurerfenis deur bome/boompies te plant. Op die aanbeveling van CapeNature is die bome by die Assegaaibosch-natuurreservaat geplant. 

Verlede jaar is twee assegaaibome, twee geelhoute, ‘n kei-appel, ‘n wildepruim en twee rooielse sowel as ‘n bosvlier geplant. Vanjaar is ‘n waterpeer en ses kleiner boompies, naamlik ‘n rooikaree, ‘n boskiepersol, ‘n kuskoraal en twee wildeperskes geplant. Dit was aangenaam om te sien hoe mooi die boompies van verlede jaar groei en groter word.

Hoewel die Assegaaibosch-staproetes vanjaar nog gesluit is, het CapeNature ‘n vergunning gemaak vir die Paul Roos Old Boys en huidige leerders. ‘n Groep van net meer as dertig persone kon op Saterdag 24 September die natuurprag van die Jonkershoekvallei op Erfenisdag ervaar. 

Spesiale vergunning is vir die Lentelopers gegee om van die Assegaaibosch-roetes in Jonkershoek gebruik te maak.

Stap (in die natuur) is ‘n aktiwiteit wat mense van alle ouderdomme kan geniet. Van prof. James Joubert, wat al in 1958 gematrikuleer het, tot ‘n paar veertienjariges was bevoorreg om letterlik en figuurlik die 6km-roete (of ‘n gedeelte daarvan) aan te pak. 

Hulle kon saamloop – nuwe herinnerings skep – en ook saam ‘n bydrae lewer tot ons natuurerfenis. Soos een van die leerders, Stephanus de Kock, dit agterna gestel het: “Dit was baie lekker. Ek sal beslis dit aanbeveel. Dit was ‘n vreugde om in die natuur te wees en met ‘n klompie Old Boys saam te stap.”

Jonk en oud het die stappery in die ongerepte natuur geniet.