
Anton Müller (1976), skrywer van die boek Ek Onthou – ‘n Outistiese Seun se Lewensreis, het einde Oktober na ‘n loopbaan van 44 jaar as rakbeampte by Stellenbosse Openbare Bibilioteek afgetree en sien daarna uit om meer tyd op sy fiets deur te bring, aan familiebesoeke te wy en met die administrasie by sy kerk te help.
Lesers van dié nuusblog sal onthou dat daar ‘n berig oor sy boek in die uitgawe van April 2021 verskyn het. Hier is die skakel na die berig om dit weer in herinnering te roep.
In dié berig is daar ook ‘n video waarin Bun Booyens die boek bekend stel.
Anton se verhaal is dié van ‘n iemand wat as ‘n jong seun weens ‘n ‘n ernstige graad van outisme as ‘onopvoedbaar” geklassifiseer is. Hy sou waarskynlik in ‘n inrigting geplaas moes word. Sy ma het egter besluit dat Anton sy plek in die samelewing met waardigheid moes vol staan.
Hy is in die “spesiale klas” van Paul Roos Laer geplaas, waar sy lewensreis ‘n verrassende koers ingeslaan het. ‘n Groepie kinders het hom omarm – met Anton wat op sy beurt hulle lewens verryk het met sy unieke talente en sin vir humor.
Die boek bied ‘n blik op hoe iemand met outisme die “normale” wereld ervaar en gee ook vir die buitestander ‘n kykie na die intense afgeslotenheid waarbinne ‘n outistiese mens leef.
Die Eikestadnuus het met Anton se aftrede met hom ‘n onderhoud gevoer waarin hy vertel hoe hy deur die jare baie veranderinge in die werkplek moes deurmaak en trotseer. Tog was dit vir hom ‘n perfekte loopbaankeuse, nie net omdat hy ‘n groot liefde vir lees en boeke het nie, maar ook saam met ander mense kon werk en met die publiek kon gesels.
