Edition / Uitgawe Oct 2024

Die Paul Roosers wat internasionale rugby vir ander lande gespeel het

Raar maar waar. Bittermin, net drie Old Boys sover ons weet, het internasionale rugby op topvlak vir ander lande gespeel (uitgesluit junior spanne soos op 0.20-vlak).

Meeste van ons is bewus van Braam Steyn (2010) wat tot nou al in 16 toetse vir Italië gespeel het, en van Josh Strauss (2004) wat 11 keer vir Skotland uitgedraf het.

Maar die heel eerste Old Boy wat vir ‘n ander land gespeel het, was JA (Jannie Krige), ‘n jonger broer van die beroemde Japie Springbok, wat vir groot kontroversie gesorg het toe hy vroeg in 1920 Engeland verteenwoordig het in ‘n toets teen Wallis.

Read more: Die Paul Roosers wat internasionale rugby vir ander lande gespeel het

Jannie, wat voor sy vertrek vir tandartstudie in Londen aan die Stellenbosch Boys High School en Victoria-kollege sy opleiding ontvang het, het gou die oog gevang toe hy sy rugbytalent by Guy’s Hospital uitleef.

Die Engelse pers was erg gekant teen die keuse van ‘n Suid-Afrikaner, en geen verdere Suid-Afrikaners is in die volgende paar jaar vir Engeland gekies nie, hoewel Frank Mellish (wat saam met Krige in die wedstryd teen Wallis gespeel het) nog vyf toetse vir Engeland gespeel het. Sy Engelse van het dalk ‘n rol gespeel.

Volgens ‘n bron is dit is moeilik om te sê of die besluit van die Engelse keurders om nie Suid-Afrikaners te kies nie, Krige verdere Engelse wedstryde gekos het, maar dit is beslis die moeite werd om daaroor te spekuleer.

Nog ‘n broer van Japie Krige, Pieter, gebore in 1895 en ook ‘n Old Boy, het vir die Britse Barbarians gespeel toe hy net soos Jannie vir tandarts in Londen gestudeer het. Met sy terugkeer later het hy gereeld vir die WP uitgedraf.

Meeste van die agt pastorieseuns van ds Koos Krige, wat van 1880 tot 1910 op Caledon predikant was, het op die rugbyveld uitgeblink. Buiten vir Japie Springbok, het Willie (*1881) die Springbokspan vir die oorsese toer in 1910 as vleuel gehaal. Hy speel nie in enige toets nie.

Van Hendrik (*1884), die derde seun, word gesê hy blink uit as voetbalspeler.

Tinie (*1893) het as onderwyser aan Grey High geweldig baie gedoen om rugby as skoolsport in die Oos-Kaap te bevorder, veral onder die Knysna-boswerkers wat na Port Elizabeth verskuif is. Hy tree af as adjunkhoof van Grey High en was bekend daarvoor dat hy nie net oudleerlinge se name kon onthou nie, maar ook in watter posisie hul rugby gespeel het. Hy was die enigste van die rugbyspelende seuns wat nie op Stellenbosch skool gegaan het, maar op Caledon. Hy speel wel vir Maties, WP, Natal en OP senter.