
Paul Roos Gimnasium gaan aanstaande jaar ‘n kernrol speel in die NMI Toyota Noord-Suid Rugbytoernooi, wat van 28 Maart tot 1 April 2025 op die Markötter-sportterrein in Stellenbosch gehou word.
Dié toernooi, een van Suid-Afrika se voorste skoolseunrugbyfeeste, word vir die eerste keer in sy bestaan deur ‘n Suid-skool aangebied. Toprugbyskole van regoor die land gaan deelneem en ‘n fantastiese platform bied vir jong talent om hul vaardighede ten toon te stel.
As gasheer sal Paul Roos Gimnasium nie net die fasiliteite verskaf nie, maar ook bydra tot die organisasie en gladde verloop van die toernooi. Dit is ‘n wonderlike geleentheid vir die skool om te skitter en vir die spelers om waardevolle ervaring in ‘n mededingende omgewing op te doen.
Maar daar is vir die Old Boys ook kans om te wys wat nog in hulle steek. Met die openingsfunksie op Donderdag 27 Maart gaan verskeie skole se oudsterre teen mekaar speel. PRG se Oud-Skoliere speel teen Affies s’n.
Die jongste nuus is die belangstelling is so groot dat twee bykomende spanne saamgestel gaan word. Jy moet ouer as 35 en op die Donderdag beskikbaar wees as jy wil speel. Kontak die Oudskoliere-unie vir meer besonderhede.
