Edition / Uitgawe Oct 2016

The Old Boys’ farms of Stellenbosch

In this edition we start with a series on farms belonging to Old Boys in the Stellenbosch environs. Many of these farms are for generations in a family, but sometimes successful business men return to their old stomping grounds and then really build up something spectacular. In this edition we look at such an example: Lingen, the four hectares smallholding that Neil Krige (1966) bought thirteen years ago.

Die eintlike boer op hierdie plaas is sy vrou, Coreen, wat so ywerig tuin maak dat daar al selfs ʼn roos na haar vernoem is. Maar daar is ook wingerd en ʼn spesiale wyn. Lees meer hieronder: 

Lingen, tuiste van Niel en Coreen Krige

Rondom Stellenbosch bly daar heelwat Old Boys – sommige op familieplase, maar daar is ook party wat na jare terugkeer en dan vir hulle grond koop in een die mooi valleie wat die dorp omring waar hulle groot geword het. En as jy dalk dink Stellenbosch gaan oor wingerde en wyn, sal jy weer moet gaan kyk na hoe hierdie Old Boys ware sierrade vir ons dorp skep. Ons hoop om nog baie oor ons plase vorentoe te skryf, maar in hierdie nuusbrief lê ons by Lingen besoek af.

Toe Niel Krige (klas van 1966), bekende sakeleier en deesdae verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool, en sy vrou Coreen sowat dertien jaar gelede hul plaas van vier hektaar in die Jonkershoekvallei gekoop het, het hulle die plaas herdoop na Lingen, die dorpie in Duitsland waar die Krige-stamvader oorspronklik vandaan kom.

Die oorspronklike plaastuin het meestal bestaan uit ou gewilde struike, soos asaleas en kamelias, wat in die skadu van die ou eikebome floreer het. Sedertdien het Coreen die plaastuin ontwikkel tot ‘n lushof, veral bekend vir sy pragtige versameling clivias en talle roosbeddings. Coreen het in die beginjare ‘n bos olienhoute so bekyk, toe al die klimop (“ivy”) onder die bome laat verwyder, die olienhoutbome se stamme oop gesnoei en met die hulp van Jim Holmes, die bekende bolkweker, sowat 500 oranje en geel clivias (boslelies) onder die bome geplant.

Sy het ook hulp gekry van die legendariese tuinskrywer Una van der Spuy van die plaas Old Nectar, ‘n ent hoër op in die vallei, met die uitleg van haar tuin.

Deesdae het sy nie ‘n benul hoeveel clivias sy het nie, so vinnig het hierdie gewilde bolplante vermeerder, en in die laat lente begroet ‘n see van geel en oranje besoekers .

Coreen het die hulp van twee getroue tuiniers wat haar bystaan, en maak staat op berg- en boorgatwater om haar pragtuin in stand te hou. Benewens die clivias, is haar groot liefde rose, en die netjiese beddings bestaan uit talle roosvariëteite, almal afkomstig van die bekende rooskweker Ludwig Taschner, wat self die plaas van tyd tot tyd besoek.

‘n Paar jaar gelede het Niel Coreen op haar verjaarsdag verras met ‘n spesiale roos wat na haar vernoem en gekweek is deur Ludwig Taschner. Vandag het sy ‘n roosbedding net vol “Coreen Kriges”.

Coreen het ook ‘n welige groentetuin. En ja, daar is ook wingerd op die plaas, waarvan ‘n rooi versnit, genaamd Lingen, vir hulle gemaak word deur die naburige Stark-Condé-wynkelder.