Edition / Uitgawe Mar 2020

Old Boys se sake-netwerk gaan van krag tot krag

Binne ‘n relatief kort tydjie het ‘n aanlynsake-netwerk wat deur Etienne Beneke (1988) vir Old Boys geskep is, groot byval gevind. Etienne vertel self waar alles begin het.

Die PRG Old Boys Business Network (PRG OBBN) het ontstaan uit die behoefte om my eie nuwe besigheid aan ‘n bestaande besigheidsnetwerk wat nog nie ontgin was nie, bekend te stel.

Die PRG OBBN is gebaseer op ‘n beginsel wat ons vriende in Grey Bloem al dekades lank beoefen en dit is om die skool en Old Boys eerste te nader wanneer jy dienste wil bemark of besigheid wil doen.

Omdat die Internet my operasionele wêreld is, het die idee ontstaan om ‘n Facebook-groep te stig vir Old Boys en vir almal wat oor FB-rekeninge beskik (en dit is die meeste van hulle) ‘n platform te gee om hul klein of mikro-ondernemings te adverteer of om kennis te neem van ander Old Boys se besighede. Ons doen in elke geval besigheid aanlyn of met ander mense, hoekom dan nie eerste nader aan die “huis” kyk nie?

My uitgangspunt was waarom sal ek ‘n ander skool se Old Boy kies of bevoordeel, òf hy nou tuindienste verskaf, hout aflewer,’n bouer, ‘n tandarts, ‘n prokureur, ‘n bemarker, ‘n dokter òf ‘n finansiële adviseur is, terwyl ons eie alumni oor dieselfde vaardighede of dienste beskik? En hoe kom ons agter oor watter vaardighede ons Old Boys beskik? Die PRG OBBN was die antwoord. Hoe meer Old Boys netwerk, hoe groter is die kans op sukses!

Dit help nie ons is almal op ‘n FB-groep en ons praat nie aktief met mekaar oor besigheidsgeleenthede nie. Ek is ook nie seker of ‘n FB-groep regtig die finale antwoord is nie. Ek is van mening dat maandelikse, let wel nie aanlynvergaderings nie, ‘n baie belangrike rol kan speel as seepkis waarop ons kan staan en vir vyf minute gesels oor ons besigheid, ons uitdagings en ons teikenmark en wat ons verlang. Maandelikse vergaderings sou eintlik ideaal wees en ek dink ons moet dit ‘n kans gee. Al begin ons klein!

Die PRG OBBN het tans sowat 900 lede. Dit is ‘n uitstekende begin vir ‘n groep wat maar in Desember geskep is, maar daar is nog letterlik derduisende Old Boys wat ‘n impak kan maak op ander Old Boys in die sakewêreld. Ons het almal nodig om die tregter wyer oop te maak. Ons kan nie meer klasreünies gebruik elke 10 jaar om te probeer netwerk nie. Dis 2020 en alles geskied aanlyn … in die huidige moeilike ekonomiese omstandighed, is dit nou tyd om mekaar te ondersteun.

As ek my besigheid kan adverteer op ‘n groep wat net bestaan uit Paul Roos-sakelui, dan staan ek reeds ‘n kans om raak gesien te word, want:

  1. Ouens ken my, of weet reeds van my.
  2. Ouens vertrou my omdat ander PRG Old Boys namens my kan getuig (“vouch”).
  3. As ek deel van die netwerk is, gaan ek altyd werk of besigheid kan kry solank ek aktief bemark.
  4. Hoe meer werk jy vir jou Old Boys doen, hoe meer sal hulle jou aanbeveel en help om die leier op jou gebied te word.

Sluit aan, jy het niks om te verloor nie!

Print Friendly, PDF & Email