Die sportmansgees van Paul Roos Gimnasium word vasgevang in hierdie foto wat net na afloop van die verloorstryd teen Grey Kollege in Bloemfontein deur ʼn onbekende fotograaf geneem is. Rektor Jannie van der Westhuizen skryf in ‘n spesiale boodskap (kliek op die skakel hieronder) aan die Old Boys wat besorg is oor die skool se rugby dat trots gevestig moet word op die karakter, etos en wese van ons skool, en nie net op prestasies nie.
But this does not mean we are going to stay on the losing path. Plans are already afoot to return to winning ways next year. Training has already started, but the main thrust is that our coaches will be empowered, amongst others with an overseas visit to Saracens and exposure to England’s defence coach. Frans van Niekerk explains the three fold strategy in the report below and also calls for financial support to get PRG’s rugby up to where it belongs.
Wat word beplan vir Paul Roos Rugby in 2017?
Na aanleiding van talle vrae deur Old Boys na afloop van vanjaar se rugbyseisioen, het ‘n afvaardiging van die OSU ‘n openhartige gesprek gehad met mnre. Jannie van der Westhuizen, rektor en Frans van Niekerk oor die pad vorentoe vir Paul Roos rugby, asook hoe die Old Boys betrokke kan raak. Na hierdie gesprek het hulle soos volg skriftelik gereageer.
Jannie van der Westhuizen:
Een van die Old Boys het dié opmerking in ‘n gesprek gemaak: “Paul Roos moet weer wen, want ons wil weer trots wees!”
Ek wil graag ‘n ander soort perspektief daaraan gee, hoewel ek volkome verstaan wat die bedoeling met die opmerking was.
Trots is ‘n ongelooflik positiewe kenmerk. Arrogansie is aaklig. Ek het gedurende my termyn ‘n groot fokus geplaas op die vrae waarop is ons trots en waarom is ons trots. Wanneer jy op die verkeerde dinge trots is, word dit in wese arrogansie. My standpunt hieroor word op bl 99 van die 150-feesboek ook weergegee.
Ons trots moenie gebou word op oorwinnings, prestasies, suksesse, ensovoorts nie. Trots moet gebou wees op intrinsieke waardes, want die uitleef en nastreef van daardie waardes bring uiteindelik sukses, en sukses wat volhoubaar is. Ons trots moet dus gesetel wees in dit wat die skool is, dit waarin die skool glo en daardie waardes waarop die skool gebou is.
Ons trots moet met ander woorde gevestig wees op die karakter, etos en wese van ons skool. Net na die Grey-wedstryd, dit wil sê na die nederlaag, het die skool se seuns soos een man hulle rondom die span opgestel en ‘n sirkel gevorm: waardig, trots, ondersteunend, lojaal, ten spyte van die nederlaag. Dit is net moontlik wanneer trots reg gefundeerd is en op die regte dinge gebou word.
Ons is almal menslik. Ons hou almal van wen. Wen is baie nodig. Maar om ‘n skool te hê wat die regte dinge doen en dinge reg doen en om die regte redes gerespekteer word, is veel wensliker as ‘n skool wat bloot erken word as suksesvol, maar nie noodwendig vir sy suksesse gerespekteer word nie. Trots gebou op sukses is in wese arrogansie.
In ons daaglikse wandel moet hierdie boodskap uitgedra word. Die dieper verstaan van hierdie filosofiese konsepte is regtig belangrik om ‘n groter perspektief te kry, al verander dit niks aan ons almal se behoefte om te wen nie.
Frans van Niekerk:
Gegewe die huidige situasie en die filosofie van die skool het die Beheerliggaam op 19 September besluit dat ‘n werkskomitee met al die afrigters en administrateurs van rugby in die skool moet vergader om te bepaal watter behoeftes en tekortkominge aangespreek moet word. Die eerste terugvoering sal in Februarie 2017 aan die Beheerliggaam gegee word en na aanleiding daarvan gaan daar op ‘n plan van aksie vir 2018 besluit word.
Vir die 2017-seisoen gaan daar vir eers op die volgende drie aspekte gekonsentreer word:
- Bemagtiging van al ons afrigters
Ons is tans besig om die afrigters vir die onderskeie ouderdomsgroepe te finaliseer, maar die eerste span se afrigters vir volgende jaar is al aangewys: Stephan Jordaan is die hoof van rugby en “Pa” van die eerste span, Marinus Pretorius is hoofafrigter met spesiale verantwoordelikheid vir die voorspelers, Corné Uys is hulpafrigter en verantwoordelik vir die agterspel en Erhardt Muth is verantwoordelik vir verdediging. Die Stellenbosse Akademie vir Sport (SAS) sorg vir die binne- en buiteseisoense kondisionering van die span.
Ons beplan om volgende jaar ons indeling van groepe aan te pas. Per ouderdomsgroep sal die A-, B- en C-spanne as ‘n eenheid hanteer word en dieselfde sal met die C, D en E-spanne gedoen word. Vir elke groep sal daar ‘n afrigtingspan van vier wees: een vir die voorspelers, een vir die agterspelers, een vir verdediging en ‘n hulp.
Die eerste span se afrigters wat verantwoordelik is vir onderskeidelik verdediging, voorspelers en agterspelers sal die ander ouderdomsgroepe se afrigters onder hul vlerk neem om kontinuïteit in afrigtingmetodes te verseker. Daar sal dus volgende jaar 34 afrigters by ons rugby betrokke wees.
Ons is in die finale beplanningsfase om vier van ons afrigters aan die begin van Desember vir ‘n week na Saracens te stuur en diegene wat agterbly sal hier blootstelling kry aan Engeland se “verdedigingsafrigter” wat ons skool in Desember besoek.
Dit kos geld om die beste moontlike afrigters te bekom en indien daar van die oud-skoliere se kant finansiële hulp aangebied word, sal dit vir hierdie doel aangewend kan word.
- Optimale ontwikkeling van die beskikbare talent in die skool
Die sukses van hierdie faset word deur die kwaliteit van afrigters bepaal, vandaar die fokus op die bemagtiging van die afrigters. Daar is reeds op Maandag 19 September begin met basislyn-toetse op ‘n groep van 60 senior spelers. Die groep het daarna op 10 Oktober begin met hul voorseisoense voorbereiding en dit word hanteer deur die eerstespan-afrigtingskorps en SAS, met ekstra hulp verleen deur spesialiste. Die junior groep (die 0.14’s en 0.15’s) se voorseisoen het ook toe begin. Die program word so opgestel dat seuns ook aan somersportsoorte kan deelneem.
Begin Desember stuur ons vyf van die senior spelers na Saracens om hul junior akademie vir twee weke te besoek. Die O.15 A-losskakel, Kade Wolhuter, is tans vir drie maande by hul akademie en gaan daar skool. Hierdeur poog ons om ons seuns op ‘n vroeë ouderdom’n “voetspoor” in Europa te gee met die oog op ‘n latere sportloopbaan. Gegewe die huidige politieke situasie is geleenthede vir ons seuns plaaslik baie beperk.
- ‘n Fokus om die beste moontlike talent al in graad 7 te identifiseer en na PRG te laat kom
In hierdie opsig is die oud-skoliere van die skool vir ons baie belangrik om as bemarkers van die skool op te tree. Ons filosofie is nie om ander hoërskole se seuns te “roof” nie. Ons wil die talent wat PRG kies as die skool van hul eerste keuse na die beste van ons vermoë self ontwikkel. In 2017 gaan goeie talentvolle seuns hulle by ons in graad 8 aansluit. Van hierdie seuns sal egter nie kan bekostig om skoolgeld te betaal nie en wil ek graag die skool se projek “Sponsor a needy Paul Rooser” onder jul aandag bring. Die bydraes aan die Paul Roos-stigting is aftrekbaar van belasting en voornemende donateurs kan my direk skakel vir meer inligting.
