OBU Chair Gustav Potgieter and office manager Elza van der Walt were in September amongst 71 delegates from 39 schools that attended this year’s conference of the South African Schools Alumni Association (SASAA), that were hosted by Maritzburg College. Shared heritage is the glue that keeps OBU’s going and this must be celebrated at reunions and other events.
Die verwelkoming van graad 8’s met Oom Polla se Lat is voorgehou as ʼn tradisie wat ʼn belangrike rol kan speel om die grondslag vir erfenis te lê en dit is oudskoliereunies se plig om dié erfenis te bewaar. Lees Gustav se volledige verslag hieronder:
Nog ‘n baie geslaagde SASAA-kongres
Vanjaar se SASAA (Suid-Afrikaanse Skole Alumni-Assosiasie) kongres, wat in die eerste week van September gehou is, was weer eens leersaam, insiggewend en baie suksesvol.
Die komitee en kantoor van Maritzburg College se Alumni-bond van was uiters verwelkomend en behulpsaam. Ongeveer 39 skole is verteenwoordig deur 71 afgevaardigdes. (Die OSU van PRG was die gasheer van verlede jaar se kongres, wat deur 72 afgevaardigdes van 43 skole bygewoon is.)
Ná afloop van ‘n ronde gholf die Vrydagmiddag is op ‘n “kerrie”-geselligheid die Vrydagaand nuwe vriendskapsbande gesmee en ou bande hervat.
Die tema vir hierdie jaar was “Telling the story – Engaging our Alumni”. Daar was ‘n aantal sprekers verbonde aan oudleerling-unies by wie almal ‘n paar dinge kon leer soos die belangrikheid van ‘n goeie databasis, sosiale media, nuusbriewe, ens.
Wat mens veral bygebly het van die kongres was die “’gedeelde erfenis” wat al die skole ervaar. Al die skole het ‘n gemene faktor, naamlik hul oud-skoliere. Hulle is ons erfenis. Dit is belangrik om hulle emosioneel betrokke te kry, asook hul lojaliteit, want hulle is tog die siel van die skool.
Dit is op reünies waar hulle hul skool se erfenis vier. Baie interessant is dat Maritburg College die voorbeeld van Paul Roos se tradisie dat die Graad 8’s met Oom Polla se lat verwelkom word, pertinent genoem het as iets wat hulle van ons geleer het.
Die unies fokus op die “human element”. Die unies moet poog om die “onthou jy nog”-herinneringe lewendig te hou. Die reüniegroepe deel ‘n jarelange vriendskap, ervarings en goeie ou tye. Ons moet ‘n “eternal bond” bou op daardie dinge wat so ingeprent is in die leerders, soos “moenie op die gras loop nie”; hoe erg dit was as jou das afgeneem is, “Jolla Bolla”, “Drum Line” , en alles wat deel van die “legacy” van PRG is. Dit is die OSU se verantwoordelikheid om hierdie erfenis te beklemtoon sodat ‘n Old Boy van ‘n reünie met ‘n glimlag in sy hart weggaan.
Vir interessantheidshalwe, hier is die definisie van Alma Mater en Alumnus:
Alma = nourishing
Mater = mother
Alumnus = One who has been nurtured.
Die paneelbesprekings, waar Paul Roos saam met Grey Bloem, Grey PE, Paarl Boishaai en Kearsney op die paneel gedien het, was ook baie insiggewend. Almal het weer besef dat feitlik al die seunskole op dieselfde manier funksioneer en dat almal iets by mekaar kan leer. Die unies meng nie in met die daaglikse bestuur en besluitneming van die skole nie, maar vorm ‘n belangrike deel van die skool se breë gemeenskap.
Ons is vol vertroue dat die OSU van PRG op die regte pad is en steeds beskou word as ‘n leier wanneer dit kom by die bestuur van oud-skoliere.
Die kongres is ongelukkig ook gekenmerk deur die beroerte wat ‘n verteenwoordiger van Windhoek die Vrydagnag gekry het. Hy is sowat ‘n week later oorlede.

