
Mariena Kotze, argivaris van Paul Roos Gimnasium, gee ’n oorsig van die lewe en werk van Jannie van der Westhuizen, wat pas as rektor uitgetree het en deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns as vanjaar se wenner van die Elizabeth C Steijn-medalje aangewys is.
Mr Van der Westhuizen, who retired after a distinguished career of 37 years in education, comes from a humble farming background as the son of an ostrich farmer near De Rust. He studied at the University of Port Elizabeth (now Nelson Mandela Metropolitan University) to become a teacher. He taught at five schools of which the last ten years were spent at Paul Roos Gymnasium.
From childhood days he loved sport and was even a regional champion in high jump at the age of thirteen. Rugby was his passion and the highlight of the more than 700 first team rugby games he was involved in, was the victory of PRG against Grey College in 2015 during the 150 year anniversary of the school. This game was preceded by a fly-past of the Silver Falcons, a sight he will remember to the end of his days.
Infrastructurally, the school experienced a great deal of growth and improvement during his term and the school’s 150 year festivities during 2016-17 were another milestone in his term. Mr Van der Westhuizen will be remembered for his dignity, his far-sightedness, his willingness to listen to his staff and learners and the amazing support he enjoyed from his wife, Marlene.
Jannie van der Westhuizen het naby De Rust op die plaas Klein Kruis grootgeword, sowat 20 kilometer van die Kangogrotte in die Oude Muragie-streek. Dit was ’n familieplaas waarop sy oupa geboer het totdat sy pa, Hekkie van der Westhuizen, oorgeneem het.
Hekkie en Corine van der Westhuizen het drie kinders gehad. Die oudste broer, Hennie, was skoolhoof by Worcester Gimnasium, waar Paul Roos self van 1908 tot Maart 1910 skoolhoof was. Dan volg Jannie as die tweede skoolhoof in die gesin en daarna hul suster Leana.
Sy pa het met volstruise op Klein Kruis geboer. Vir die drie kinders was dit wonderlike grootwordjare. Hulle moes die pieperige klein volstruisies help grootmaak. Wanneer hulle wou rugby luister, moes hulle op die plaashuis se dak klim sodat hulle kortgolfradio kon opvang. Jannie was die Suid-Kaap se onder 13 -hoogspringkampioen. Interskole in daardie streek was tussen die Hoërskole Uniondale, Calitzdorp, Wittedrif en De Rust, waar Jannie in sy matriekjaar hoofseun was.
Nadat hy sy militêre diensplig van twee jaar voltooi het, is hy na die Universiteit van Port Elizabeth waar hy die grade B.Com., B.Ed. (cum laude)en die H.O.D. -onderwysdiploma verwerf het.
Sy onderwysloopbaan het by die Hoërskool Outeniqua begin. Daarna is hy na die Hoërskool Punt op Mosselbaai en op 34-jarige ouderdom word hy as skoolhoof van die Hoërskool Kirkwood aangestel. Ná twee jaar op Kirkwood word hy in 1995 hoof van die Hoër Landbouskool Boland totdat hy in April 2007 die rektorskap van PRG aanvaar.
Mnr Van der Westhuizen het gedurende sy onderwysloopbaan as afrigter en as hoof meer as 700 eerstespan-rugbywedstryde beleef. Vir hom was die onvergeetlikste rugbywedstryd ooit die Interskole teen Grey Kollege in 2015 toe drie Silwervalke enkele minute voor die begin van die hoofwedstryd oor die Markotterveld gevlieg het. Dit was gereël deur ’n pa wat self ’n vlieënier van die Silwer Valke was. Die atmosfeer was só positief dat almal geweet het dat PRG in sy 150ste jaar nooit hierdie wedstryd sou verloor nie.
Gedurende sy rektorskap het baie verbeterings op die PRG-terrein plaasgevind:
- 2007: Die nuwe palisade-heining word rondom die skool opgerig;
- 2008: Vier nuwe klaskamers word gebou;
- 2009: Die Akwatiese Sentrum word voltooi;
- 2010: Opgradering van alle kleedkamers en groot areas wat geplavei is, asook die gedenktuin voor die skool;
- 2011: Verbeterings aan die Japie Krige-saal;
- 2012: Die algehele herontwikkeling van die Markötter-terrein en geboue, waaronder verbeterde kleedkamers, ’n eerstespanlokaal, ’n onderdak-oefenarea en ’n nuwe klubhuis asook die pawiljoen wat vergroot is;
- 2013: Agt nuwe klaskamers (die Welgevallen-gebou ) word opgerig, ’n nuwe argief, personeelkamer, administratiewe kantore en sportkantoor word in gebruik geneem en die rivier-oewergebied oorkant die skool word ontwikkel;
- 2015: Onderwysersverblyf word op die skoolterrein ontwikkel en die nuwe musiekgebou word gebou.
Die 150 -feesvieringe met al sy fasette was ’n besondere hoogtepunt asook die publikasie van die 150 jaar- gedenkboek wat in 2015 bekend gestel is.
Jannie van der Westhuizen is ’n mens wat ver vooruit kyk. Hy was ’n skoolhoof wat ook geluister het na sy personeel. Sy insette was altyd ’n verbetering op wat ons as personeel voorgestel het en die uiteinde ’n wonderlike spanpoging, in so ’n mate dat mens net jou beste wou gee al het dit wát gekos.
PRG het die afgelope 10 jaar ’n puik rektorspaar gehad. Dit is waarom die voorsitter van die beheerraad, Anthonie Jacobs, op die formele afskeid op 24 Maart van Marlene van der Westhuizen kon getuig: “Sy is die getroue rots en steunpilaar, altyd dieselfde dankbare, vriendelike, nederige en opregte metgesel.”
Marlene het ’n groot belangstelling in PRG se aktiwiteite gehad het en op Saterdae haar man na Markötter vergesel waar sy gasvrou vir besoekende hoofde se eggenote was.
Adjunk-rektor Frans van Niekerk onthou mnr Van der Westhuizen vir die waardigheid waarmee hy altyd opgetree het het, die statige wyse waarop hy die skool verteenwoordig het, vir die omgee-mens wat hy is en vir die vertroue wat hy in elkeen van sy personeel gehad het. Daarom het almal hul beste gegee.
Ons dank hom dat hy die méns in elkeen raakgesien het. Die leerlingraad van 2017 (sy aftreejaar) se leuse is “simple but significant”. Jannie was iemand wat in die eenvoudige dinge wat saak maak soos ’n sonsopkoms, ’n bondeltjie hout, ’n vuurtjie, ’n kringetjie wors en die eerste koppie koffie in die oggend vreugde gevind het, asook kwaliteit tyd saam met Marlene en hul kinders, Andri en Jan-Hendrik.
Op 30 Maart 2017, sy voorlaaste dag as rektor, het mnr. Van der Westhuizen verneem dat die Suid-Afrikaanse Akademie die Elizabeth C. Steijn- medalje aan hom toegeken het. Die formele aankondiging lui soos volg:
Elizabeth C. Steijn-medalje
Hierdie medalje is ingestel om ’n onderwyser of ’n onderwyseres te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne, sowel as buite die klaskamer. Dit is vernoem na Elizabeth C. Steijn, wat vir baie jare hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria was.
Dié medalje word toegeken aan mnr. Jannie van der Westhuizen, rektor van die Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch. Die kombinasie van mnr. Van der Westhuizen se strategiese en praktiese denke, tesame met sy unieke kundigheid rondom onderwyskompleksiteite in Suid-Afrika, word wyd erken in die skole-sektor, sowel as in akademiese kringe.
Ten slotte wil ek ook met baie dankbaarheid hulde bring aan mnr. Van der Westhuizen vir die wyse waarop hy erkenning gegee het aan hierdie skool se geskiedenis, die grootsheid daarvan en sy besef van watter rol oud-skoliere van Paul Roos Gimnasium in die geskiedenis van Suid-Afrika op alle gebiede gespeel het.
Mariena Kotze
PRG Argief
