
Sybrand Johannes van Niekerk Cillié is op 12 Junie 1921 op Stellenbosch in kerktyd op ’n Sondag gebore. Almal het toe voorspel dat hy ’n dominee sou word. Sy vader, prof. Gawie Cillié, was die eerste rektor van die Universiteit van Stellenbosch. Hy was die jongste van sewe kinders, waarvan al sewe diep spore in die gemeenskap getrap het , soos bekende oud-skoliere prof Gawie Cillié (1925) en prof. Piet Cillié (1932).
Op vyf-jarige ouderdom is sy moeder oorlede. Sy oudste suster, Angelique, was toe ongeveer 17 jaar oud en het hom grootgemaak. Sy vader het, toe hy 10 jaar oud was, weer getrou met ’n jong vrou wat jonger as sy oudste broer was.
Sy ouer broer, my oom Hansie, is Bloemfontein toe in 1931 om die stigting van die Voortrekker-beweging by te woon. Toe hy terugkom, het hy my pa as die eerste voortrekker in Suid Afrika ingeskryf. My pa was ’n ywerige voortrekker en het die herdenking van die Groot Trek in 1938 as touleier meegemaak.
Hy het Sub A en B in Bloemhof in een jaar gedoen en die res van sy skoolloopbaan was hy in die Hoër Jongenskool. Mnr. Paul Roos was hul buurman in Van Riebeeckstraat en sy skoolhoof.
Toe my pa ingenieurswese wou studeer, het my oupa vir hom gesê hy moet eers B.Sc. op Stellenbosch loop voor hy na die Universiteit van Kaapstad kon gaan. Gedurende sy studiejare by UK het sy blindederm gebars en hy het by die dood omgedraai. Dit het hom ’n ekstra studiejaar gekos.
In universiteitsvakansies het hy by oom Willie Louw op die plaas Roelou gaan werk, waar hy oom Willie se oudste dogter, Emcy, later my moeder, ontmoet het.
Hulle is op 3 April 1948 getroud en het eers in ’n huisie op Roelou gebly. Sy eerste werk was by die Vrugte-navorsingstasie op Stellenbosch. Daar het hy die eerste bottel Sterimelk in Suid Afrika gebottel. Hy het navorsing gedoen om vrugte in koelkamers op te berg: appels, pere en druiwe was sy passie.
In 1954 koop my oupa Willie vir my pa ’n kleinhoewe langsaan die Paradyskloofpad, nou bekend as Loci.
In 1961/2 het my pa ’n lektorspos by die Kaapse Technikon aanvaar. Hy was maar baie kort ’n lektor, want hy word aangestel as adjunk-direkteur, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1986 beklee het.
My pa het altyd meer as een werk gehad. Daar was die Technikon, koelkamerwerk en die ontwerp van koelkamers op ’n raadgewende basis. Hy het baie gehou van sy privaat werk. Dit is seker hoekom al sy kinders vandag hul eie sakeondernemings bedryf.
Ek onthou veral ’n voorval uit my kinderjare: een dag werk my pa onder ons 1958 Chev-stasiewa. My ma kyk toe bo uit die kamervenster en sê: “Jy het het darem baie hulp!” Onder die motor het pa se bene en drie stelle klein beentjies uitgesteek. My pa sê toe vir my ma, jy is welkom om hulle te gebruik as jy wil.
My pa het vir ons ingenieurswese geleer sonder dat ons dit besef het. Op die ouderdom van nege moes ons ’n Austin-mini se olie en filters kon vervang en op 12 moes ons die punte, kondensator, vonkproppe en waaierband nasien. Later moes ons remme, remsilinders en enjins oordoen. Ons het ons skoolonderwysers se motors gediens en herstel vir ekstra sakgeld.
My pa het my op skool geleer hoe om derdefase elektriese motors te koppel en hoe om die rotasie te verander, sou dit verkeerdom loop. Toe ek op universiteit kom, ek eers besef hoeveel meer algemene kennis ek as my mede-ingenieurstudente het.
Ons ouers het al ons studiegeld betaal, maar ons moes met ons vakansiewerkgeld ’n bydrae maak.
Ouma Mams, Oupa Gawie se jong vrou, het aan haar agterkleinkinders geld nagelaat om te gaan studeer. Al my pa se kleinkinders wat ná Ouma Mams se dood gebore is, het my pa laat studeer.
Willem Cillié (1970)
