Edition / Uitgawe Jun 2017

Sal ek gaan of sal ek nie gaan nie?

KLAS 1967
Van links staan die 1967-matrieks Dawid Botha, John Duminy, Izak Smit, Theo Badenhorst, Meurant Botha, Hoffie Conradie, Eggie Scheffler, Braam van Velden, Tom McLachlan, Gerard van der Straaten, Johan Carinus en John Bassil.

 Dawid Botha (class of 1967) struggled with the question if he should attend or not the fifty year reunion of his class. He eventually did go and then found the reasons why it is so important not to miss such precious events.

Dis die vraag wat baie mense vra oor hul matriekreünies…

En ek het dit ook gevra, maar ek sal nie weer nie.

Die ervaring om weer met die manne en hul vroue herinneringe te deel wat nie net op skool gebeur het nie, maar ook wat die afgelope 50 jaar – mens kan dit eintlik nie glo nie – gebeur het, is die een deel wat dit die moeite werd is. En dan ook die antwoorde op vrae soos: “Wat het van ou so en so geword? Magtig kan mens hom nie gaan opspoor nie?”

Ons groep – as my somme reg is – is die besondere een wat elke honderd kan sê – wel die meeste van ons – dat die klas van 67 vanjaar 67 jaar oud is…

′n Agttal van ons was Vrydagoggend 26 Mei daar om die nuwe rektor, mnr. André van Staden, te ontmoet en bietjie te kyk hoe die skool vandag lyk. Van buite nog hoofsaaklik dieselfde, veral aan die voorkant, maar betree jy die ingang is dit baie anders!

Die Argief maak ′n goeie indruk, en dit kon ons net oorsigtelik bekyk, maar mens kan maklik ′n hele oggend of middag daar deurbring as jy wil diep kyk. Natuurlik onder die trotse en waaksame oog van die argivaris, Mariena Kotze.

Aan die agterkant is die plek eintlik onherkenbaaar en dit is ongelooflik om die baie nuwe geriewe soos die reuse-swembad en die groot nuwe saal te bekyk. Ons was ook in die Japie Krige-saal. Wat toe vir ons groot was, lyk nou glad nie meer so groot nie… Die skool is nou, veral wat leerlinggetalle betref, twee maal so groot as in ons dae!

Wat was vir my die opvallendste, behalwe nou die Argief? Dit was die musiek wat bo uit die nuwe musiekkamers oor ′n luidspreker gekom het! Watter vreugde was dit nie om bietjie later die drie maroenbaadjies te sien wat self gedurende die pouse hul skoolmaats op uitstekende kitaarspel trakteer. Dis nou Paul Roos op sy beste, wat my betref.

Op die Saterdag het daar nog ′n paar klasmaats met hul vroue bygekom vir ′n baie lekker middagete in die Markötter-sentrum – ook nuut vir baie van ons – en daar het ons nou lekker en lank gesels! Dit was nou regtig soos ′n baie lang familiesaamtrek.

Baie dankie aan Elza van der Walt en Helene van Wyk vir al die reëlings.

Sal ek weer twyfel of en ′n reünie sal bywoon? Nooit weer nie!

Dawid Botha