Lize Rossouw, 22 Junie 1973-10 Augustus 2017
Paul Roos Gimnasium se geliefde me. Lize Rossouw is op 10 Augustus 2017 op 44-jarige ouderdom in Stellenbosch MediClinic oorlede na ʼn lang en moeilike stryd teen kanker. As Departementshoof van Rekeningkunde was sy een van Paul Roos se mees gerekende onderwysers, aktief betrokke by en baie lief vir Paul Roos Gimnasium. Benewens haar man, mnr. Kerneels Rossouw, laat sy twee seuns agter: Neels in Graad 10 en Ruben (Graad 7, Laerskool Eikestad). Me. Rossouw was bekend daarvoor dat sy bereid was om enigiemand met watter probleem ook al te help, en dít met ʼn goeie skeut humor nog ook. Almal wat ooit met haar gesels het, of in haar klas was, of lid was van ʼn sportspan wat sy bestuur het, óf wat haar “kollega” genoem het, weet dat sy ʼn glansmens was. By haar roudiens op 14 Augustus in die Moederkerk is daar gesê sy het soos ʼn sonneblom geleef omdat sy altyd die goeie in mense en in die lewe raakgesien het, op dieselfde manier as wat ʼn sonneblom na die son strewe. Paul Roos Gimnasium is dankbaar vir haar lewe. Sy sal in ons nagedagtenis bly voortleef.
Renier Hattingh (graad 12)
Hierie artikel het in die Concipio van 18 Augustus 2017 verskyn.

