Die jaarlikse Herinneringsdag is ʼn besondere dag in die jaarkalender van Paul Roos, wat mens terselfdertyd met dankbaarheid en trots vervul.
Ná ʼn seremonie op 10 November waartydens die name afgelees is van Old Boys wat gesneuwel het in die Tweede Vryheidsoorlog, die Rebellie van 1914, die twee Wêreldoorloë, tydens Grensoperasies en Diensplig, asook in die Vryheidstryd, is ʼn krans by die Muur van Herinnering gelê, in ʼn gepaste tyd waar al die Paul Roos-rose vol in die blom is.
