Prof. Markus Reuter (1976), wat in Desember verlede jaar ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch ontvang het (sien vorige nuusblog), het in die week voor die gradeplegtigheid saam met sy vrou, Karen, en sy broer, Hanno (1987), die argief van die skool besoek.
Die twee broers het lank oor ’n koppie koffie met die rektor, mnr. André van Staden, Mariena Kotze van die argief, en Gustav Potgieter, voorsitter van die OSU, oor hul dae by Paul Roos gesels. Albei was eerstespanhokkiespelers op hul dag. Hul swaer is die skrywer Etienne van Heerden, self ’n Old Boy van 1972.

Hanno is die direkteur van navorsing en ontwikkeling by Hamon Thermal Europa en buitengewone medeprofessor (Meganies en Elektronies) aan die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch.

