Edition / Uitgawe Mar 2018

Ses aan ’n kant-kriekettoernooi begin ’n nuwe tradisie

Die Paul Roos Ses aan ’n kant-krieketdag op 1 Maart was ’n reuse-sukses en word beskou as die begin van ’n nuwe jaarlikse tradisie om Stigtersdag met ’n sporttoernooi tussen Old Boys en huidige leerders te vier.

Vier spanne het in twee rondes teen mekaar meegeding: die Chutneys, ’n span oudskoliere van 2008-2010, ’n gekombineerde Afrigtingspan, die o/15A-span en die o19/C-span.

Die Chutneys het hul eerste wedstryd naelskraaps teen die o/15A’s verloor. Twee lopies is van die laaste bal benodig. Een lopie is geslaan waarna die paaltjie direk raakgegooi is en ’n tweede lopie vir die oorwinning gehardloop kon word. Goeie bydraes is gelewer deur Robin van der Rheede en Gustav Potgieter.

Die o/19-span het afgereken met die Afrigtingspan, en gevolglik was die volgende wedstryde tussen die Chutneys en die Afrigtingspan terwyl die o/19s teen die 0/15s te staan gekom het.

Die Afrigtingspan het hul beste krieket vir hul laaste wedstryd gelos en die Chutneys afgeransel. Sebastian Gericke het vir ’n noemenswaardige bydrae gesorg.

Middagete het uit heerlike pitabroodjies met spit-lam bestaan.

Daarna het die hoofwedstryd van die dag begin: ’n span van Paul Roos Legends het die huidige 1ste krieketspan in ’n 10-boulbeurt-wedstryd gepak.

Die Legends-span het eerste gekolf en ’n mededingende 134 lopies met die verlies van vier paaltjies in hul tien boulbeurte aangeteken. Lenert van Wyk en Niel Botha het albei 30 lopies behaal en moes volgens die reëls uittree. Lenert het wel later teruggekeer en ’n verdere ses lopies van twee balle geslaan.

Paul Roos se 1ste span het glad nie teruggedeins vir die Legends nie en hul kolfbeurt goed begin. Gaandeweg het die Legends se boulvernuf hulle tog onder druk geplaas, met Ralph Baumgarten wat drie paaltjies geneem het. Die paaltjiewagter, David John, het ook met goeie stonkwerk sy kant gebring. Dit het ’n uitstekende oorwinning met nege lopies aan die Legends besorg. PRG 1ste span eindig met ’n telling van 125/8 (almal uit).

Die dag was beslis een om te onthou en skoliere sowel as oudskoliere het dit geweldig geniet.

Spesiale dank aan Elza van der Walt en elkeen van die Legends wat baie moeite gedoen het om die dag by te woon.

Die Legends-span gelei deur kaptein Dewald Botha het bestaan uit die volgende spelers:

  • Dewald Botha (k)
  • Lenert van Wyk
  • Justin Dill
  • Niel Botha
  • Avril Gardener
  • Ian van Rensburg
  • David John (p/w)
  • Ralph Baumgarten

’n Spesiale T20-wedstryd word nou beplan om afskeid te neem van die huidige matrieks wat in die die 1ste span speel. ’n Dag van uitstekende krieket word verwag. Meer inligting sal in ’n latere stadium deurgegee word en ons hoop op jul ondersteuning.