Ons leef in moeilike tye waarin ons na mekaar moet omsien. Die OSU het onlangs ʼn nuwe insiatief van stapel gestuur om nie net huidige leerders by te staan nie, maar ook Old Boys, wat in nood verkeer. Die projek is nog in sy kinderskoene, maar het reeds goeie reaksie uitgelok veral met die aanbieding van hulp deur Old Boys.
- Loopbaan-navolging (“job shadowing”): die name van Old Boys wat hulleself bereid verklaar om te help, word op ʼn databasis aangeteken. Die OSU-kantoor laat die skool weet dat skoliere wat nog na ʼn plek soek om loopbaan-navolging te doen, hul name kan stuur en ons kyk op die databasis of daar ʼn Old Boy in daardie dissipline is wat kan help. Die skolier word dan in aanraking gebring met die betrokke Old Boy.
- Mentorskap vir afgestudeerdes/skoliere: Bystand word vir ʼn paar maande verleen aan leerders of pas afgestudeerde Old Boys wat nie werk kry ná skool of ná voltooiing van hul studies. Weer eens word die name van Old Boys wat bereid is om te help aangeteken op die databasis. Die afgestudeerde skolier/student moet die OSU-kantoor kontak vir meer besonderhede.
- Mentorskap-hulp vir Old Boys: Nie net finansiële hulp is hier ter sprake nie, maar ook berading aan Old Boys wat deur moeilike tye gaan, met byvoorbeeld egskeidings, sterfgevalle in die familie, traumatiese gebeurtenisse, sielkundige probleme, verslawing van een of ander aard, ensovoorts. Hierdie gevalle word met behulp van ʼn klasverteenwoordiger uit sy tyd/jaargroep onder die aandag van ʼn OSU-komiteelid gebring en daarna word die persoon met die regte kundige, medies of sielkundig, of kenner in aanraking gebring.
- Borgskap van ʼn behoeftige Paul Rooser / voornemende Paul Rooser: Daar was onlangs ʼn geval of twee waar ouers finansieel vasgedraai het en nie die skoolfonds en/of koshuisfooie kon bybring nie. Daar is ook gevalle waar graad 7-leerders toelating tot PRG kry, maar geen fondse het nie. Hierdie voornemende Paul Roosers kan gehelp word. Old Boys wat finansieel wil help, se bydraes word in ʼn spesiale fonds gestort wat hiervoor gestig is.
Die projek word tans gedryf deur Francois Schoombee en Chris Theron van die OSU- komitee. Kontak asb vir Francois, Chris of Elza as jy n bydrae wil lewer.
Francois Schoombee
