More than 50 years ago the field and nature knowledge of a young Paul Roos scholar helped him to save the life of his hiking companion after a snake bite. This story caught the media’s attention and then ended up in a historian’s book on South African child heroes.
Die Drayton-familie het in 1955 van die ou Rhodesië (Zimbabwe) na Suid-Afrika geëmigreer en hulle uiteindelik op die plaas Byways in Parelvallei, Somerset-Wes, gevestig.
Die oudste seun, Terence, matrikuleer aan PRG in 1960, terwyl die dogter, Sheila, in 1962 op Bloemhof matriek slaag. Die jongste seun was in 1961 in standard sewe (graad 9) aan Paul Roos Gimnasium toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het. Anthony Rochford Drayton was toe veertien jaar oud.
Tony, soos hy genoem is, was ’n gewilde leerling by PRG. Hy was lief vir die natuur en sy grootste begeerte was om ’n boer of wildbewaarder te word. Tydens naweke en vakansies het hy in die veld en omliggende berge in die Helderberg-omgewing gaan stap. Een van sy stapmaats was Julius Lombard, ook Chippies genoem, wat ’n jaar ouer as Tony was.
Op Saterdag 14 Oktober 1961 het Tony sy rugsak gepak sodat hy en Chippies die dag in die veld kon deurbring. Hul roete was al langs die voet van die berg in die rigting van Stellenbosch. Teen middagete was hulle al ’n paar myl van die huis af.
Om en by halfdrie was hulle halfpad tussen die berg en die teerpad toe Chippies begin kla oor sy linkerbeen wat lam gevoel het. Daar was twee klein bloedkolletjies naby mekaar aan die binnekant van sy been wat teen daardie tyd gevoelloos begin voel het. Dit was duidelik dat dit ’n slangbyt was.
Tony, wat kort tevore in ’n brosjure gelees het hoe om slangbyt te behandel, het die band van sy rugsak afgehaal en dit bo die knie om sy vriend se been gedraai en met sy knipmes ’n sny oor die wonde gemaak. Teen daardie tyd was Chippies se been al gevoelloos en omdat hy al redelik flou was, het Tony hom op sy rug getel en hom gedra na die naaste huis ’n aansienlike afstand verder.
Dit was die opstal van die plaas Marina wat aan prins Wladyslaw Puzyna behoort het. Chippies is dadelik deur hierdie Poolse prins na die hospitaal op Somerset-Wes gebring waar hy suksesvol behandel is.
Hierdie ware verhaal is opgeneem in prof. DJ Kotzé se boek Dapper kinders van Suid-Afrika (eerste druk 1962).
In Junie 1963 het die personeel en leerlinge van Paul Roos Gimnasium hulde aan Tony Drayton betoon toe prof. Dirk Kotzé (professor in geskiedenis aan US) dié boek tydens ’n saalbyeenkoms aan Tony in die teenwoordigheid van sy ouers, mnr. en mev. PF Drayton, oorhandig het.
Tony Drayton het sy ideaal verwesenlik en ’n wildbewaarder geword. Hy is in 2008 oorlede . Sy seun, Chad, woon in Kenia.
Mariena Kotze
PRG Argief
Bronne : Dapper kinders van Suid-Afrika deur prof DJ Kotzé
Eikestadnuus 14 Junie 1963
Die Burger 16 Oktober 1961
