Min oud-skoliere of besoekers sal ooit weet waar die heel eerste skoolgebou was, want soos ons in die nuusbrief van Desember 2018 berig het, het die brons gedenkplaat voor hierdie geskiedkundige gebou in Dorpstraat al geruime tyd gelede voete gekry.
Die eerste Gimnasium-gebou het van Julie 1866 tot Julie 1874 as skool gedien. Dorpstraat 120-122 is net langsaan Voorgelegen en behoort tans aan Historiese Huise van Suid-Afrika.

Vir besoekers aan die Argief is daar ’n makliker manier om hierdie en ander bakens van PRG te waardeer. Die bekende kunstenaar en Old Boy Jaco Coetzee (2001) het die eerste skoolgebou in Dorpstraat, asook die tweede skoolgebou op die hoek van Plein- en Ryneveldstraat, met sy kwas op ’n natuurlike hedendaagse wyse vasgevang.

Jaco het ook die Japie Krige-saal geskilder.

Die tweede skoolgebou is in 1898 aan die polisie oorgedra en baie Old Boys sal nog die polisiekantoor onthou wat eers in 1979 ontruim is en daarna aan die Stellenbosch-museum oorgedra is. Vandag is dit die tuiste van die De Warenmarkt-restaurant.
