Op Vrydagaand 17 Mei 2019 is die jaarlikse dinee en algemene jaarvergadering (AJV) van die OSU gehou. Die komitee het vroeër vanjaar reünie-jaargroepe aangemoedig om hul reünies ook oor hierdie naweek te hou. Daar was sewe jaargroepe wat hul reünies ook oor hierdie naweek gehou het: 1964, 1969, 1974, 1979, 1984, 1989 en 1999.
Ten einde hierdie reüniegroepe te akkommodeer, het die komitee besluit om die dinee en AJV weer op ’n Vrydagaand te hou nadat dit verskeie jare op ’n Donderdagaand gehou was. Deur die dinee te kombineer met ’n amptelike “Reünienaweek” vergemaklik dit die logistieke reëlings rondom die reüniegroepe se besoek aan die skool op die Vrydagoggend en verhoog dit ook die aantal oud-skoliere wat die dinee bywoon.
Die dinee is bygewoon deur 300 mense en ons gassprekers was die bekroonde skrywer Etienne van Heerden en die bekende sanger en skrywer Koos Kombuis van die 1972-klas. Die formaat was dié van ’n gesprek tussen hierdie twee met Jean Meiring (1991), self ’n bekroonde resensent, wat opgetree het as gespreksleier. Staaltjies en ander verhale uit hul skooljare is met die gehoor gedeel.
Die Rektor, mnr. Andre van Staden, en ons voorsitter, Gustav Potgieter, het elkeen die geleentheid gehad om onderskeidelik ’n oorsig te gee van die skool en OSU se bedrywighede die afgelope jaar. Ek dink ons is dit almal eens dat beide organisasies in baie goeie hande is.
Die verrigtinge is afgesluit met ’n heerlike ete voorberei deur Dawid Kriel (1992) van Red Pepper Deli. Daarna is verskeie diep gesprekke gevoer, meeste van die land se probleme opgelos, ou vriendskappe weer hernu en heerlik gekuier rondom goeie bottels wyn.
Kliek hier vir foto’s van die dinee
Ons hoop om heelwat meer van julle volgende jaar by hierdie geleentheid te sien.
