Edition / Uitgawe Nov 2019

Dieter Eiselen gaan van krag tot krag in Amerikaanse voetbal

Die opkomende Amerikaanse voetbalster Dieter Eiselen, kom uit dieselfde stal wat vanjaar die nuwe rugbyheld, Herschel Jantjies, opgelewer het, naamlik PRG se 2014-matriekgroep.

Hy speel tans vir Yale-universiteit, waar Dieter in sy finale studiejaar is. Hy het in ʼn onderhoud met Netwerk24 in 2016 gesê rugby het hom gehelp om in hierdie mededingende sportsoort uit te blink en moontlik die oog te vang van die NFL se talentsoekers.

Vir hom was dit eintlik ʼn “mal” droom wat waar geword het toe die beroemde Yale-universiteit hom ʼn beurs aangebied het sonder dat hy ʼn enkele minuut van die spel ooit gespeel het.

Hoewel hy as jong seun graag ʼn Springbok wou word, het hy danksy televisie en rekenaarspeletjies ʼn groot belangstelling in “gridiron” ontwikkel. “Ek het dié sport drie jaar slaafs gevolg, maar nooit regtig gedink dat ek die skouerkussings of helm sou aantrek nie,” vertel Eiselen.

Toe kom hy agter dat ʼn “naskoolse jaar” by sommige Amerikaanse skole ingestel is om nuwe spelers vir “gridiron” te werf. “Ek het vir ʼn klomp skoolafrigters e-posse gestuur en hulle vertel van my droom om die spel te speel.”

Een van die afrigters wat gereageer het, was LJ Spinnato van die Choate Rosemary Hall-skool in Connecticut, aan die Amerikaanse ooskus. Die skool was die vorige jaar die onoorwonne kampioen van sy deelstaat.

“Ek het hom op die een of ander manier oortuig om my ʼn kans te gee en is in Januarie 2015 aanvaar. Ek het besluit om in April oor te gaan, al begin die skooljaar eers in Augustus,” het Eiselen gesê.

Volgens Eiselen het Coach Spinnato het hom angeraai om tydens die Amerikaanse somer voetbalkampe by te woon om die belangstelling van universiteite te prikkel. Sy paadjie was nie glad nie en hy het gou die uitdagende realiteite van die sport besef.

Met sy eerste kamp het Eiselen nie genoeg tyd gekry om te eet nie. “Ná sowat twee ure se oefeninge het ek die rofste krampe van my lewe gekry. Ek het die kamp voltooi, maar my lyf was ʼn gemors.”

Die volgende oggend het Spinnato hom wakker gebel met die nuus dat hy genooi is om die Yale-universiteit se oefenkamp by te woon. “Ek was huiwerig en nie in die beste toestand om my vermoë ten toon te stel nie, maar Coach het my oortuig.”

Die Sondag het dit gereën, maar Eiselen het ʼn wilsbesluit geneem. “Ek weet nie of dit ʼn kombinasie was van my woede en verveling en my liggaam se pyn nie, maar ek het op die plek besluit om my heel beste in elke liewe drill te wys.”

Dié benadering het vrugte afgewerp. Die Yale Bulldogs se afrigter, Tony Reno, het hom dáár op die oefenveld ʼn beurs aangebied!

“Ek wou hom nie glo nie. Ek was verbaas dat hulle vir my, net ʼn laaitie uit Suid-Afrika, ʼn kans wou gee. My droom het waar geword nog voor ek ʼn enkele minuut se voetbal gespeel het!”

Die aanbod was bloot ʼn voorloper tot die geluk wat sou volg. “Ek en my span was toe onoorwonne en ons het die New England-kampioenskap gewen. Dit was ʼn broederskap wat ek nooit sal kan vergeet nie.”

Hy meen daar skuil ʼn les in sy verhaal: “Hopelik wys my storie dat drome deur aksie bewaarheid kan word. ʼn Paar jaar gelede sou ek nooit gedroom het dat ek in hierdie posisie sal wees nie.”

Hier is ʼn interessante skakel na ʼn onlangse artikel oor Dieter wat in Hartfort Courant verskyn het: http://www.courant.com/sports/hc-sp-dieter-eislen-south-africa-yale-football-20190917-20190919-cssvggixfnep3h5ob3g3iwssp4-story.html