Daar is min lojaler en bekender Old Boys as Nic de Jager (1958), veteraan-akteur en -omroeper. Nic het onlangs ‘n lewensbydrae-toekenning van die ATKV ontvang.
In hul sitaat skryf die beoordelaars: “Nic de Jager verdien verering vir 50 jaar se uitsonderlike talent, voordragte, radiospel, nuuslees en aanbieding, maar veral vir sy fenomenale kennis van opera, in Nic se Goed, wat Sondae om 12:00 op RSG uitgesaai word.
“Hierdie elegante, soepel aanbieder se taalvaardigheid, sy kennis van die letterkunde, musiek en kunstenaars, sy goeie smaak en oordeel, maak van hom ’n formidabele speler, opsteller en aanbieder – die soort maestro wat jong en ou kunstenaars kan lei en inspireer.
“Nic de Jager is gemaklik en gemoedelik wanneer hy uitsaai en hy gebruik sy uitsonderlike stem om van elke program ’n besondere genotvolle luisterervaring te maak. “
Ons het Nic nou gevra om te vertel oor Nic se goed, en hoe hy na 300 programme dit steeds regkry om luisteraars aan nuwe en ou stemme en lieder bekend te stel Sondag na Sondag.
Ek was geseënd om in my jare by die ESYBIESIE (1966 – 1974) te werk saam met die groot radiogeeste van daardie tyd. In die kantoorgang van die ou SAUK-gebou in Commissionerstraat was die name op die deure: Monica Breed, Verna Vels, Gerhard Viviers, Daan Retief, Pieter de Bruyn, Morkel van Tonder, Danie Erasmus en Johan de Bruyn. En my kollegas was uitsaaiers soos Daniël Kirstein, Nic Swanepoel, Fanus Rautenbach, Roelf Jacobs en Cobus Robinson.
Die uitsaaidissipline van destyds het ‘n groot invloed op my as ‘n jong omroeper gehad. My belangstellingsveld was wyd, en ek kon die Saterdag die Grand Prix of die Nege-uur Uithouwedren op Kyalami uitsaai en die Sondagaand ‘n simfoniekonsert met Victoria de los Angeles of Elizabeth Scwarzkopf uit die Johannesburgse Stadsaal. Ook heelwat musiekprogramme – onder andere “Die Stem en die Melodie” oor opera, “Treffersparade” oor ligter musiek en “In die Voorportaal” oor kultuurdinge.
Nic se Goed – as ek nou na die 303 programme kyk – moes so ses jaar gelede begin het. Ek is sleg met datums. Ek het carte blanche met sekere voorbehoude. Daar is reeds ‘n operaprogram dieselfde aand – dus nie té veel opera nie. Maar ek stel primêr in die menslike stem belang en húlle sing opera. Of lieder. En die snitte moet so vyf, ses minute wees. Dit beteken ongeveer 2000 opnames oor 303 programme.
Die oorgrote meerderheid van die musiek is my eie, maar ek ontdek nog gereeld nuwe wonders. Afgesien daarvan het ek nog so ongeveer 500 CD’s en net soveel langspeelplate oorgehou. My professionele draaitafel en versterkers is nog met my en met nuwe tegnologie kan daardie plate almal gedigiteer word. Al die musiek in die program is op my rekenaar en word gestoor op 14TB se hardeskywe (en nog duplikate en triplikate van dieselfde kapasiteit). As die luiheid toeslaan, koop ek musiek by “prestoclassical.uk”. Jy kan snitte uitkies en jy hoef nie die hele langspeler te koop nie.
Die gewroeg om ‘n nuwe program begin so Maandag se kant. Ek het ‘n bytjie in my hoedjie oor die vervlakking van kennis wêreldwyd en dit sal die grootste beloning wees as iemand musiek hoor wat hulle aanspoor om na iets nuuts te gaan luister of meer daaroor te gaan uitvind. Die program probeer dus om bekende musiek te speel met tussenin so ‘n interessante nuwigheid of iets wat nie verdien om onbekend te wees nie. Dan is daar ook baie ou vriende wat elke dan en wan my aandag vestig op iets wat ek nie ken nie, of al van vergeet het.
Die program moet balanseer met die verskeidenheid musiek om dit ‘n bevredigende geheel te maak – opgewek, nostalgies, mansstemme, vrouestemme en kore. Dit is nie altyd maklik nie, maar my jare in die bedryf help darem in ‘n sekere mate.
Ek neem Donderdae op, in die ateljee by my huis. Dan word die program per WeTransfer Johannesburg toe gestuur.
Photo: Ig Vlok
