Min mense besef aldag watter opofferinge dit verg van ‘n jong, belowende rugbyspeler, skaars uit die skoolbanke, om by ‘n professionele klub aan te sluit oorsee. Heinrich Rodgers, oud-Springbokstut, gee ons ‘n kykie in die lewe van sy seun Robbie (2020) se uitdagings by Montpellier, die roetine, aanpassing en ja, selfs die bemeestering van Frans waarin hy binnekort sy studies daar hervat. In Skotland het Jordan Venter (2020), ook al meer begin uitdraf vir sy nuwe klub Edinburgh.
Robbie Rodgers het twee dae na sy 2019-matriekeksamen na Montpellier in die Suide van Frankryk vertrek, om hom aan te sluit by die Franse Junior Rugby Akademie.
Sy korttermyn-doelwit is om te kwalifiseer vir JIFF Status (Joueurs Issus des Filieres de Formation) Hiermee word ‘n buitelandse speler gelyk gestel aan ‘n Franse burger. Om te kwalifiseer vir JIFF status moet Robbie vir drie jaar en voor hy 21 word, deel wees van die Franse Junior Akademie.
Verder word ook vereis dat Frans op Vlak 2 geslaag word. Robbie is tans besig met Frans vlak 3 om later vanjaar te kan inskryf vir ‘n besigheidkwalifikasie. Robbie is gelukkig dat hy Frans vinnig kon aanleer in ‘n streek waar nie baie ander tale voorkom nie.
Robbie se dae is besig. Dit begin soggens om 08:00 met professionele rugby-afrigting wat insluit span- en individuele afrigting, videosessies, afrigter-terugvoer en fiksheidsessies op die veld en in die gimnasium. Gesonde middagetes word in die klub se restaurant geniet waar hy kan meng met Springbokke soos Handre Pollard en Kobus Reinach en Franse spelers soos Paul Willemse en Guilhem Gerado. Middagete is tussen 13:00 en 14:00 waarna formele Franse klasse begin en eindig 18:00, Maandae tot Vrydae.
In die aande is spelers op hul eie aangewese om hul kosmaakvaardighede te toets, klere te was, ens. Naweke word wedstryde gespeel en tussenin en op rare afdae word Montpellier en omliggende streke verken. Montpellier het in die somer ‘n Mediterreense klimaat en baie buitelug-afleiding. Dit is die vyfde grootste stad in Frankryk met ‘n groot universiteit-gemeenskap.
Aan die einde van verlede seisoen was Robbie bevoorreg om in die senior groep ingesluit te word nadat senior loskopstutte beseer geraak het. Dit het verskeie wedstryde op die bank ingesluit asook Montpellier se verowering van die European Challenge Cup teen Leicester Tigers op Twickenham in London.
Met die nuwe seisoen wat onlangs afgeskop het, lyk dit of die blootstelling aan die senior span voordelig was vir Robbie se ontwikkeling. Hy is by die junior span reeds twee weke na mekaar aangewys is as speler van die wedstryd.
Die verlange huis toe is soms groot. Gelukkig is kommunikasie met sy gesin maklik en sien Robbie en sy ouers daarna uit om mekaar aan die einde van 2021 in Frankryk te sien. Robbie is ‘n trotse Paul Rooser en stuur hartlike groete aan leerlinge, onderwysers en Old Boys.


Jordan Venter, ook pas uit matriek, is in Desember 2020 na Skotland waar hy ‘n professionele kontrak gekry het om vir die klub Edinburg rugby te speel. Hy speel tans binnesenter (12) vir hulle en het in September by die Universiteit aldaar begin studeer.
Jordan het homself voorgestel aan sy nuwe klub en ondersteuners op hul webwerf: https://www.edinburghrugby.org/the-clubhouse/five-things-you-didnt-know-about-jordan-venter.



