
(Soos gepubliseer in Die Burger van 22 Januarie 2021)
Daar word dikwels bespiegel oor die gebruik van die titel “rektor” wanneer daar na die skoolhoof van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch verwys word. Hoe is dit moontlik dat ‘n skool ‘n “rektor” as hoof kan hê, word gevra?
Dit dien vermeld te word dat Paul Roos nie die enigste skool is waar daar van die hoof as “rektor” gepraat word nie. Ander voorbeelde is onder andere Grey High School in Port Elizabeth en Michaelhouse in die Natalse Middellande.
Verwysings na die skoolhoof as “rektor” word soms met negatiwiteit begroet, en word selfs as arrogant of verwaand beskou. Dit is jammer, want groter begrip vir hierdie gebruik, sal tot veel groter waardering daarvoor lei. Artikels hieroor deur Mariena Kotze, argivaris van die Paul Roos Argief, en prof. Pieter Kapp, gerespekteerde historikus van Stellenbosch, in die Paul Roos-150-gedenkboek, gee die agtergrond vir hierdie trotse tradisie van 146 jaar.
Die volgende historiese agtergrond skets die nou vervlegde ontstaan van Stellenbosch as dorp, die skool en die Universiteit van Stellenbosch (US). Dit is dan ook hierin waarin die verduideliking vir die verwysing na die hoof van Paul Roos as “rektor” lê.
Die skool open sy deure 155 jaar gelede, op 1 Maart 1866, as die Stellenbosch Gimnasium. Die openingseremonie vind in die Stellenbosch Moederkerk plaas, en word deur 800 mense bygewoon. Die skool se stigters was ds. J.H. Neethling, predikant van die Moederkerk, prof. N.J. Hofmeyer, en prof. John Murray, beide professore by die Kweekskool (Teologiese Seminarium), wat in 1859 geopen is. Hierdie drie here was ook die stigters van die Hoër Meisieskool Bloemhof in 1875. Op die eerste skooldag was daar 88 leerders, waarvan 58 die seuns van Rhynse Sendelinge was. Hulle het tydens die openingseremonie die kerk vanuit die konsistorie, en onder applous, binne gestap.
Die eerste drie hoofde van die skool, William Braid, Charles Anderson en William Milne, word in Skotland gewerf. Dr. Koos Marais word in 1897 die eerste Afrikaanssprekende rektor.
In 1946 verskuif die skool na die huidige skoolkompleks, geleë op die historiese plaas Welgevallen, op die oewer van die Eersterivier. Die skool se naam word verander na Paul Roos Gimnasium, hernoem na die oud-Stellenbosser Paul Roos. As oud-skolier was hy in 1906 die eerste kaptein van ‘n Springbok-toerspan wat oorsee toer (na die Britse Eilande). Hy was die rektor van die skool van 1910-1940 en die ontstaan van die naam “Springbokke” word ook aan hom toegedig. Dit is omdat hy in 1906 sy span as “de springbokken” aan die media voorgestel het.
Simon van der Stel het ‘n leidende rol daarin gespeel dat die vryburger Steven Jansz Botma in 1679 die eerste eienaar van die Welgevallen-plaas word, met Coetzenburg, wat vandag onder meer die sportgronde en proefplaas van die US huisves, as buurplaas.
Jannie Marais, oud-leerder van die destydse Stellenbosch Gimnasium, diamantmagnaat, en mede-stigter van Naspers en Die Burger, sou later die trotse eienaar van Coetzenburg word. Marais sou ook £100 000 skenk vir die stigting van die US.
Die aanvanklike doel met die stigting van die skool was om studente vir verdere teologiese studie aan die Kweekskool voor te berei, en om veral opleiding in Grieks en Latyn te ontvang. Na die totstandkoming van die skool, moes daar hieraan uitvoering gegee word. Gedurende die termyn van Charles Anderson, besluit die skoolbestuur dat opleiding tot op ’n vlak van ‘n BA-graad gedoen moet word. Die aanvaarding van die University Corporation Act in 1873 het die weg hiertoe gebaan, en aan die einde 1874 word die “Arts Department” (Kollege) ‘n werklikheid.
Die eksaminerende liggaam sou die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop wees. Vanaf 1875 tot 1879 is die skool en die Kollege in dieselfde gebou gehuisves, met Anderson as hoof van beide instellings. Hy sou as rektor Anderson bekend staan. Die enkele dosente aan die Kollege sou die titel van professor kry, maar steeds onderhewig wees aan die gesag van die skool.
Archibald MacDonald word as die eerste professor in klassieke tale en Engelse Letterkunde aangestel. Aan die begin is die matrieks as deel van die Kollege hanteer. Die junior matrieks (vandag gr 11), moes ‘n toelatingseksamen by die professore aflê voordat hulle na die senior matriekklas, en as deel van die Kollege, kon oorskuif. Die skeiding van die twee instansies vind in 1881 plaas. Daar was toe 210 seuns op skool, en 61 studente aan die Kollege.
Sedert 1887 sou die kollege as die Victoria Kollege bekend staan, wat in 1918 die Universiteit van Stellenbosch sou word.
Die senior matrieks sou eers vanaf Julie 1899 na die skool teruggeplaas word. Aan die einde van eeu het die skool ‘n indrukwekkende opvoedingsprogram aangebied. Benewens die tradisionele vakke, is Duits en Grieks aangebied, en was Latyn ‘n verpligte vak. Paul Roos self het ook Latyn onderrig.
Die gebruik van die term “rektor”, met verwysing na die hoof van die instelling (skool en kollege), en wat sedert rektor Charles Anderson in 1875 in gebruik is, het na die afskeiding van die Kollege in 1881 bly voortleef.
Die tweede rugbyspan van die US, wat as Victoriane (Vics) bekend staan, verleen sy naam aan Victoria Kollege. Anderson het as “Ou Kalie” bekend gestaan, en is die persoon na wie daar in die bekende volksliedjie “Wat maak oom Kalie daar” verwys word – dit ten spyte van sy absolute waardigheid!
Daar sou vir baie jare na die Kollege se afstigting formele bande tussen die twee instellings bestaan. Alhoewel daar nie vandag meer ‘n formele verbintenis tussen die skool en die universiteit is nie, is daar steeds noue samewerking op verskeie terreine. Selfs die bekende maroen-rugbytrui word deur beide instellings gedeel. Tydens die 150-jarige feesjaar (1 Maart 2015 – 1 Maart 2016) het die skool se eerstespan op sy beurt met die Victoria Kollege-trui gespeel.
‘n Besoek aan die skool se argief lewer ‘n interessante blik op die geskiedenis van hierdie historiese instelling. Interessante memorabilia word daar bewaar, onder andere van die drie oud-premiers Jan Smuts, J.B.M. Hertzog en D.F. Malan, Anton Lubowski, die oud Swapo-aktivis, Paul Roos se Springbokbaadjie van 1906, en veel meer. Die rottang wat Paul Roos tydens sy termyn as rektor gebruik het, word ook daar bewaar, en hoewel dit al vir jare nie meer in gebruik is nie, speel dit steeds ‘n simboliese rol in die skool.
Die Paul Roos 150-gedenkboek bied ook ‘n volledige blik op die eerste 150 jaar van die skool se geskiedenis. Mnr André van Staden, die huidige skoolhoof, is die 16de Rektor sedert 1866.
Die gebruik van die term “rektor” het dus in die geval van Paul Roos Gimnasium, uitsluitlik ‘n historiese oorsprong, en is ‘n trotse tradisie wat reeds vir 146 jaar by hierdie tradisionele seunskool met trots bewaar, gekoester en gebruik word.
In die geval van Grey High School, wat vernoem is na sir George Grey, word die titel “rektor” sedert die skool se stigting in 1863 gebruik. Volgens die skool se webblad “a status to which the school was entitled because the Institute had revenue for Crown Lands”.
Jannie van der Westhuizen
Rektor : Paul Roos Gimnasium, 2007-2017
Bogenoemde artikel word met verlof van Die Burger gepubliseer
