Edition / Uitgawe Dec 2021

Tiaan Pretorius (2019) maak sy buiging vir die Blitsbokke

Tiaan Pretorius (2019) het einde November sy buiging vir die nasionale sewesspan in Dubai gemaak.  

In ‘n artikel op Netwerk24 gedateer 23 November vertel Tiaan se pa, Torros, self ‘n bekende provinsiale speler op sy dag,  dat hulle van ‘n plaas by Mashishing na die Wes-Kaap verhuis het om Tiaan se sportloopbaan te ontwikkel.

“ (Tiaan het) van vroeg af lekker rugby gespeel. Aan die einde van sy gr 7-jaar het ons Kaap toe getrek, want hy wou baie graag Paul Roos toe gaan.”

Toe Tiaan op skool was, het hy Suid-Afrika in die 0.18-sewesspan by die Olimpiese Jeugspele verteenwoordig. In sy gr.11-jaar het hy vir die WP se Cravenweekspan gespeel, maar in 2019 het Tiaan harsingskudding opgedoen en kon hy nie oorweeg word nie. Hy het wel in daardie jaar vir die SA Skole A-span senter gespeel.

Tiaan, wat as voorspeler vir die Blitsbokke speel, het in die kwarteindronde van die toernooi in Dubai sy eerste drie vir die Blitsbokke gedruk: https://www.facebook.com/PaulRoosGymnasium/videos/1067837150669401.

Tiaan het ook in die eindstryd gespeel toe die Blitsbokke die VSA met 42-7 afgeransel en sodoende die toernooi gewen het.

Hopelik gaan ons nog baie van hom sien en hoor.