
Die streekskoerant Bolander het puik dekking gegee aan Paul Roos Gimnasium se herdenking begin Maart van sy ontstaan 156 jaar gelede.
Verrigtinge het op 1 Maart begin toe rektor André van Staden tydens ‘n spesiale saalbyeenkoms leerders daarvan bewus gemaak het dat PRG een van slegs 26 tradisionele seunskole in Suid-Afrika is en danksy sy navolgenswaardige status as akademiese instelling as ‘n nasionale bate beskou word. Jong mans word nie net akademies nie, maar ook met sport en kultuur vir die universiteit van die lewe voorberei.
Old Boy Jean Engelbrecht het by die geleentheid ook ‘n inspirerende boodskap gelewer.
Op 2 Maart het lede van die Verteenwoordigende Raad van Leerders die grafte van Paul Roos (1880-1948), die eerste Springbok-kaptein en 30 jaar lank rektor van die skool, en sy nabye familie besoek en skoongemaak.
Vieringe het op 4 Maart ‘n hoogtepunt bereik toe ‘n bal vir sowat 300 leerders in grade 10 tot 12 en hul metgeselle aangebied is.
Die voorbladfoto is van ‘n kransleggingseremonie by die standbeeld van twee van die skool se stigters, proff John Murray en Nicolaas Hofmeyr, by die Kweekskool. Die derde stigtersfiguur is ds Johannes Henoch Neethling, van wie daar ‘n standbeeld by die Moederkerk is. Graad 8 leerders en die Leerlingraad het dié geleentheid bygewoon, asook ‘n afvaardiging van Hoërskool Stellenbosch.
