
Old Boys word genooi om op Donderdag 17 November ‘n bekendstelling van topverkoperskrywer Pieter du Toit (1997) se nuwe boek, The ANC Billionaires – Big Capital’s Gambit and the Rise of the Few, by die Markötter-sportkompleks by te woon.
Pieter is News24 se assistentredakteur vir in-diepte nuus en ondersoeke. Hy het al groot bekendheid verwerf met sy boeke en deesdae kan News24-lesers ook inteken op sy weeklikse nuusbrief, State of the Nation with Pieter du Toit, wat bestaan uit sy weeklikse rubriek en drie persoonlike keuses van moet-lees-stories.
In The ANC Billionaires ondersoek Pieter of geheime transaksies tussen kapitaalkragtige instansies en die bevrydingsbeweging aangegaan is om te verseker dat die status quo in terme van ekonomiese beleid bly.
Die boek maak gebruik van eerstehandse verslae deur groot rolspelers oor die omstrede verhouding tussen kapitaal en die ANC voor, tydens en ná die land se oorgang na demokrasie.
Dit werp ook lig op die miljoenêrs en miljardêrs wat voordeel getrek het uit hul verhouding met die party en met besigheid. Daar word onder meer gekyk na Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa, Saki Macozoma en Patrice Motsepe, wat toegang gehad het tot voorkeurbemagtigingstransaksies wat deur maatskappye soos Anglo American bemiddel is – almal het baie ryk geword.
Die een ding wat hierdie individue gemeen het, is die ANC – die party van regering en patronaatskap.
Die uitgewer is Jonathan Ball.
Dit klink na ‘n geleentheid wat nie misgeloop moet word nie. Bevestig bywoning by charlene.davids@jonathanball.co.za of oldboys@paulroos.co.za.
