Edition / Uitgawe Apr 2023

Daar was ‘n simbiose tussen Sparks en PRG

Die kringloop van die lewe: Sparks Esterhuysen as onderwyser, as kransduiker op Hermanus, tussen die dassies van Gearingspunt en omring met sy kinders: Frances Esterhuysen, Thea van der Merwe, en kleinseun.

Sparks Esterhuysen, legendariese oud- onderwyser van Paul Roos Gimnaisum en stigter van die Nasionale See-en-Sand Instituut op Hermanus, het op Dinsdag 11 April 2023 op Hermanus gesterf.

Huldeblyke van oor die wêreld heen het ingestroom en ‘n mens laat besef watter geweldige impak hierdie man as lewensinstrukteur op jong gemoedere gehad het.

Daar was ‘n interessante simbiose tussen die jong LO-onderwyser Henk Esterhuysen en Paul Roos Gimnasium, waar hy volgens Bun Booyens kleurryk, eiesinnig en omstrede, veral by die skoolbestuur en ouers was. 

Die skool het vir hom sy kragtige bynaam Sparks besorg, omdat hy sy leerlinge met die woord “spark” aangevuur het om uitdagende liggaamsoefeninge te doen. Leerlinge het na aanleiding van sy stories, foto’s en films oor sy belewinge op see, weer vir Sparks die vonk gegee om seekampe en mensereddingskursusse aan te bied.

So het Sparks die sirkel vinnig voltooi om terug te keer na sy geliefde Hermanus, waar hy as seun van die hawemeester in die 1940’s en 50’s grootgeword het. Hy het in die jare tagtig ook see-oorlewingskursusse vir lede van die Weermag aangebied.

Old Boy Hugo Truter (1974) was by Tafelberg-uitgewers die uitgewer van die Sparks se boek Ken Jy Die See, waarin hy kortliks oor sy grootwordjare skryf en ook talle wanopvattings of vrese oor die see behandel. Een van hulle is dat haaie ‘n vreetmasjien is. Volgens Sparks is haaie baie versigtig oor wat hulle eet en sal ‘n haai ‘n onnatuurlike prooi, soos ‘n mens dadelik los wanneer hy besef hy het ‘n fout gemaak. Daar bestaan dus nie iets soos ‘n haaiaanval nie, maar moet dit eerder as ‘n haaivergissing beskou word.

Sy avontuurlus het hom op viertrekvoertuigreise na buurlande geneem en  dit het ook later ‘n betalende bedryf geword. Saam met Sparks het jy nie net op plekke gekom wat min ander mense al gesien het nie, maar ook baie meer van die lewe geleer.

Aan ondernemingsgees het dit nie by Sparks ontbreek nie en hy het in die negentigs die regte bekom om Bientang se Grot as restaurant te bedryf, wat tot vandag nog dié kusdorp se eetplek is waar jy die naaste aan die see kan kom. Hy het ook ‘n sportwinkel met die naam Land-en-See begin.

Volgens die webtuiste Cape Whale Coast was Sparks ‘n plaaslike legende en Hermanus sal hom nooit vergeet nie. ‘n Gedenkdiens is op Saterdag 15 April 2023 om 11:00 in die Lewende Waters-familiekerk aan De Goedestraat hier gehou.

Sparks word oorleef deur sy vrou, Tilla, sy dogters, Frances en Thea, en sy seun en PRG Old Boy, Henk (2004).