

Op 75 sien Philip Erasmus (1966) kans om die tog tussen Beitbrug en Bloubergstrand vir ‘n tweede keer op sy ysterperd aan te pak om fondse vir CANSA, die Kankervereniging van Suid-Afrika, in te samel.
Hy beplan om dié poging op 14 Maart 2024 net na die Kaapstadse Fietsmarathon (die Argus soos ons van hom praat) af te skop.
Philip het in April 2016 die eerste keer meesal op grondpaaie van Beitbrug na Bloubergstrand gery en toe R130,000 vir CANSA ingesamel. Sy vrou, Sue, is in Mei 2014 met borskanker gediagnoseer. Na haar aanvanklike behandeling het Sue ‘n goeie lewenskwaliteit geniet. In Augustus 2022 het sy weer siek geword en is op 23 September 2022 oorlede weens komplikasies wat veroorsaak is deur die behandeling.
In sy eie woorde: “Dit het my gemotiveer om die rit weer aan te pak en my mikpunt is om hierdie keer R250,000 vir CANSA in te samel.”
Die rit was aanvanklik vir 2 Oktober tot 1 November 2023 beplan, maar ‘n gebreekte enkel tydens ‘n staptog in die Huysbergpas het dit in die wiele gery.
Philip wil graag hê dat Old Boys by sy poging betrokke raak. Dit kan gedoen word deur of ‘n bedrag per kilometer te borg of om ‘n enkele betaling te maak. Die totale afstand sal ongeveer 3,500 km wees. Die projek is deur CANSA goedgekeur en hul brief met die bankrekening besonderhede waarin betalings gemaak kan word, kan hier besigtig word.
Alle bydraes is vir belasting aftrekbaar en ‘n Art 18A belastingsertifikaat sal uitgereik word.

Lees ook oor ons artikel oor ‘n vorige rit van Philip: https://paulroosoldboys.co.za/2019/09/philip-erasmus-completes-gruelling-freedom-challenge-across-south-africa-for-the-second-time-at-the-age-0f-70/
Volg hom ook op sy blog: http://philipler17.blogspot.com/
