There is much more to address than only the quality of the water of the Eerste River. That was the lesson that members of PRG’s Societas club and learners of Kayamandi secondary schools when they went on an outing on Saturday 21 September 2023. “The River That Binds Us Project” focused on the impact that diverse communities with different historical, cultural, and socio-economic circumstances had on the Eerste River. Segregation between these distinct communities had compromised and is still compromising the Eerste River’s ecological well-being, and ultimately also negatively impacts human and animal health along the river. But it seems that there is hope for the future, and the project will continue thanks to PRG’s new partnership with Investec, as well as with envisaged involvement of interested and affected parties in the community, corporate companies, and environmentally orientated non-governmental organisations.
Saterdag 21 September 2023 was ‘n spesiale dag vir Paul Roos Gimnasium (PRG) se uitreikorganisasie, Societas, ‘n groep altruïstiese leerders wat hul tyd en vaardighede inspan om ‘n verskil in hul gemeenskap te maak.
‘n Nuwe verhouding wat vanjaar tussen Investec en Paul Roos Gimnasium tot stand gekom het, maak dit vir Societas moontlik om bestaande projekte uit te bou, maar ook om nuwe projekte van stapel te stuur en sodoende ‘n groter impak op die gemeenskap te hê.
Op 21 September het Societas met ‘n opwindende nuwe inisiatief begin: “The River That Binds Us”! Dit vloei uit PRG se jarelange toewyding aan die Eersterivier. Paul Roosers werk al lank met die Stellenbosch Trail Fund saam om die rivieroewers skoon te hou én inheemse bome aan te plant.
SEGREGASIE
“The River That Binds Us” fokus op die impak wat diverse gemeenskappe met verskillende historiese, kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede op die Eersterivier het. Segregasie tussen hierdie onderskeie gemeenskappe het die Eersterivier se ekologiese welsyn benadeel, en uiteindellik ook ‘n negatiewe uitwerking op die gesondheid van mens en dier wat langs die rivier woon.
In die lig hiervan het Societas hande gevat met visuele kunstenaar en Social Impact Art Prize (SIAP) kandidaat Abri de Swardt. De Swardt se werk fokus op die kultuur-historiese geskiedenis van gemeenskappe wat langs die Eersterivier woon. Die wedersydse impak en afhanklikheid van mens, nywerheid en rivier dien as inspirasie vir sy SIAP-projek en het PRG se “The River That Binds Us” geïnspireer.

Na kreatiewe gesprekke met De Swardt is besluit om ‘n bewusmakingsveldtog onder leerders van Paul Roos Gimnasium én Kayamandi te loods met die oog daarop om op groter samewerking tussen die jeug in dié twee gemeenskappe te bevorder. ‘n Verdere doel van die bewusmakingsveldtog is om skole in ander gemeenskappe langs die rivier by die Stellenbosch-hoërskoolleerders se langtermynprojek te betrek.
Societas beoog ook om inwoners, korporatiewe maatskappye en bewaringsorganisasies wat in die Eersterivier belangstel, uit te nooi om dié projek in 2024 te ondersteun en op verskillende maniere bydraes te maak.
THE HEALTH PROMOTERS
The Health Promoters (THP) is ‘n nie-winsgewende organisasie in Kayamandi wat poog om die band tussen armoede en siekte te breek. Hul fokus strek van basiese higiëne tot werkskepping en opvoeding rondom algehele gesondheid, geestesgesondheid, genderkwessies en omgewingsgesondheid. The Health Promoters het ingestem om as skakel tussen Paul Roos Gimnasium en Kayamandi se hoërskoolleerders op te tree.
‘n Gorep van sowat dertig het op 21 September ‘n dag langs die Eersterivier deurgebring. Buiten vir die leerders van Kayamandi, lede van Societas en PRG personeel, was George Arrey en Regina Eggink (verteenwoordigers van The Health Promoters), dr Charon Buchner-Marais (Universiteit van Stellenbosch en hoof uitvoerende direkteur van CoGo), Unathi Msophi (Stellenbosch Trail Fund) en brigadier-generaal Farouk Davids (Faure-gemeenskapsleier) teenwoordig.
Die groep het by Paul Roos Gimnasium begin waar hulle die rivierwater met die miniSASS (Stream Assessment Scoring System) getoets het. Me Hannelie Caine (Lewenswetenskappe) het die leerders ingelig dat die teenwoordigheid of afwesigheid van organismes in die rivier aanduidend van die rivier se algehele gesondheid is. Inheemse plantegroei en sagte ingeneurswese as volhoubare instandhoudingsmetodiek is ook bespreek. Unathi Msophi het verduidelik hoe die Stellenbosch Trail Fund daagliks werk om die Eersterivier gesond te hou.
MACASSAR
Daarna het die groep na die mond van die Eersterivier in Macassar gereis. Op pad daarheen het kunstenaar Abri de Swardt die leerders toegespreek oor die rivier as lewende organisme. Hy het beklemtoon dat die rivier aanspraak kan maak op regte, net soos dié van mens en dier. Mense moet ‘n rivier sien as ‘n lewenslyn. Dit is ‘n kulturele, geskiedkundige en natuurlike bron waar gemeenskappe vir eeue hul praktyke uitleef, bymekaarkom, voedsel produseer en ontgin, en uiteindelik hul stories in die geskiedenis van Suid-Afrika inets.
Dr Charon Boucher-Marais het aangetoon hoe die Krommerivier (Idasvallei) en die Plankenbrugrivier (Kayamandi) by die Eersterivier aansluit voor hy uiteindellik die see inloop. Sy het beklemtoon dat al die diverse gemeenskappe van Stellenbosch, Eersterivier, Faure, Macassar, sowel as industrieë langs die rivier, swak ablusie en rioolbesoedeling ‘n rol speel in die toestand van die Eersterivier se water.
Die leerders kon sien hoe die Eersterivier die see inloop terwyl die publiek visvang, en selfs vlieërbranderry. Die ongesonde toestand van die vleilande wat sorg vir die natuurlike suiwering van die Eersterivier, is ook uitgewys. Me Hannelie Caine het by die mond van die rivier water getoets. Die resultate is met die eerste stel toetsresultate vergelyk. Leerders kon ‘n duidelike verskil in watersuiwerheid en -helderheid bespeur.
ISLAM-GEMEENSKAP
Op pad terug na Stellenbosch het brig-genl Davids die leerders toegespreek en bewus gemaak van die diverse kultuurgroepe wat tussen Faure en Macasser langs die rivier woon. Hy het agtergrond gee oor Macassar se Islam-gemeenskap, wat verbind kan word met slawe wat uit Indonesië gekom het. Leerders kon die Kramat van ‘n afstand beskou. Vloedskade is in die omgewing bespeur.
Davids het die leerders voorts ingelig oor die Khoisan-gemeenskap, wat vir eeue langs die rivier in die Faure-omgewing gewoon en afhanklik was van die Eersterivier vir hul bestaan. Die industriële en residensiële ontwikkeling in die omgewing en die inbreuk wat dit op inheemse kultuurgroepe, hul tradisies en praktyke in en langs die rivier maak, is weliswaar ook tydens die uitstappie ervaar.
Die laaste stop was in Stellenbosch waar die leerders die samevloeiing van die Plankenbrug- en Eersterivier kon sien. Die besoedeling in die omgewing was ontstellend en leerders kon ook die impak van die onlangse vloedskade op die omgewing bespeur. Leerders is verder opgevoed oor die gevaar van hoë E. coli-vlakke in rivierwater. Om gesondheidsredes is watertoetse nié in die omgewing gedoen nie.
Die uitstappie is afgesluit met ‘n komplimentêre middagete by die Rupert Museum, wat deur die Social Impact Arts Prize geborg is.
WAARNEMINGS
Hier het leerders gereflekteer oor hul waarnemings gedurende die dag. Hulle het idees neergepen oor hoe hulle kan saamwerk om ‘n verskil te maak. Leerders het uitgewys hoe hulle volwassenes navolg en hoe teleurgesteld hulle is dat belangrike inligting rakende die belang van gesonde water, die impak van besoedeling en die skaal van die probleem, nie vroeër aan hulle oorgedra word nie.
Die belang van bewusmaking en opvoeding is deur die leerders geïdentifiseer. PRG en Kayamandi leerders het aangedui hoe hulle wil saamwerk om meer inheemse plantegroei in die rivierwater te help bewerkstellig, ten einde meer organismes te lok om in die rivierwater te floreer.
Hulle het aangedui dat hulle wil saamwerk om die besoedeling laer af in die rivier aan te spreek. Selfs groter idees in terme van munisipale ingryping en regeringsbeleid is deur leerders voorgestel. Leerders het ook met idees vir die toekoms gespeel en gesê saadjies is geplant vir beter omgewingsvriendelike besluite wanneer hulle eendag self ampte in professionele posisies beklee.
SERTIFIKAAT
Elke teenwoordige leerder het ‘n sertifikaat van voorneme ontvang om toegewyd te wees aan die bewaring van die rivier en ander mense in hulle gemeenskappe in te lig oor die rol wat elkeen kan speel om die rivier te versorg en gesonder te maak.

Paul Roos Gimnasium se PRG Productions het die uitstappie gedokumenteer en het daarna ‘n promosievideo bekendgestel wat ander skole, gemeenskappe en besigheidsleiers uitnooi om by “The River That Binds Us” aan te sluit. Klik hier om daarna te kyk.
Societas- en Kayamandi-leerders sal volgende jaar onder professionele leiding weer bymekaarkom om hul idees uit te bou tot praktiese, veilige en implimenteerbare projekte. Die Paul Roosers het ook nuwe insig oor die belang van integrasie en samewerking om ‘n werklike en langdurige impak te maak. Hierdie inisiatief is moontlik gemaak deur Investec.
‘n Volgepakte dag word in hierdie collage weerspieël. Foto’s is deur PRG se mediabeampte, Luna Paige, geneem.
















