Senior Old Boys Lunch on 8 November

The Senior Old Boys Lunch will take place at 12:00 on Friday 8 November 2024 in the Markötter Long Room. Please send enquiries to oldboys@paulroos.co.za.

Die Senior Oud-Skoliere Middagete vind op Vrydag 8 November 2024 om 12:00 in die Markötter Long Room plaas. Stuur asseblief navrae aan oldboys@paulroos.co.za.

Die Paul Roosers wat internasionale rugby vir ander lande gespeel het

Raar maar waar. Bittermin, net drie Old Boys sover ons weet, het internasionale rugby op topvlak vir ander lande gespeel (uitgesluit junior spanne soos op 0.20-vlak).

Meeste van ons is bewus van Braam Steyn (2010) wat tot nou al in 16 toetse vir Italië gespeel het, en van Josh Strauss (2004) wat 11 keer vir Skotland uitgedraf het.

Maar die heel eerste Old Boy wat vir ‘n ander land gespeel het, was JA (Jannie Krige), ‘n jonger broer van die beroemde Japie Springbok, wat vir groot kontroversie gesorg het toe hy vroeg in 1920 Engeland verteenwoordig het in ‘n toets teen Wallis.

Read more: Die Paul Roosers wat internasionale rugby vir ander lande gespeel het

Jannie, wat voor sy vertrek vir tandartstudie in Londen aan die Stellenbosch Boys High School en Victoria-kollege sy opleiding ontvang het, het gou die oog gevang toe hy sy rugbytalent by Guy’s Hospital uitleef.

Die Engelse pers was erg gekant teen die keuse van ‘n Suid-Afrikaner, en geen verdere Suid-Afrikaners is in die volgende paar jaar vir Engeland gekies nie, hoewel Frank Mellish (wat saam met Krige in die wedstryd teen Wallis gespeel het) nog vyf toetse vir Engeland gespeel het. Sy Engelse van het dalk ‘n rol gespeel.

Volgens ‘n bron is dit is moeilik om te sê of die besluit van die Engelse keurders om nie Suid-Afrikaners te kies nie, Krige verdere Engelse wedstryde gekos het, maar dit is beslis die moeite werd om daaroor te spekuleer.

Nog ‘n broer van Japie Krige, Pieter, gebore in 1895 en ook ‘n Old Boy, het vir die Britse Barbarians gespeel toe hy net soos Jannie vir tandarts in Londen gestudeer het. Met sy terugkeer later het hy gereeld vir die WP uitgedraf.

Meeste van die agt pastorieseuns van ds Koos Krige, wat van 1880 tot 1910 op Caledon predikant was, het op die rugbyveld uitgeblink. Buiten vir Japie Springbok, het Willie (*1881) die Springbokspan vir die oorsese toer in 1910 as vleuel gehaal. Hy speel nie in enige toets nie.

Van Hendrik (*1884), die derde seun, word gesê hy blink uit as voetbalspeler.

Tinie (*1893) het as onderwyser aan Grey High geweldig baie gedoen om rugby as skoolsport in die Oos-Kaap te bevorder, veral onder die Knysna-boswerkers wat na Port Elizabeth verskuif is. Hy tree af as adjunkhoof van Grey High en was bekend daarvoor dat hy nie net oudleerlinge se name kon onthou nie, maar ook in watter posisie hul rugby gespeel het. Hy was die enigste van die rugbyspelende seuns wat nie op Stellenbosch skool gegaan het, maar op Caledon. Hy speel wel vir Maties, WP, Natal en OP senter.

Olla was waarlik ‘n legende!

Andries (Olla) Olivier (1963): 2/7/1944 – 27/7/2024

Andries Olivier, beter bekend as Olla vir sy 1963-matriekmaats asook sy wye vriendekring veral in die wynbedryf, is op 27 Julie 2024 oorlede.

Olla se spoor sal lank sigbaar bly en in herinnering geroep word.  Hy was ‘n lewenslange passievolle ondersteuner van Paul Roos Gimnasium, sy ou alma mater en menige oud- en jong Paul Rooser sal sy rysige figuur wat al effens geboë was, langs die Markötter-rugbyveld onthou. 

In die SA wynbedryf is daar baie wynmakers van naam wat Olla as ‘n mentor en rolmodel sal onthou.  Hy het nie verniet as gerekende wynkenner en grootmaat-wynhandelaar in 2022 die Veritas Vereniging se Lewende Legende Oorkonde ontvang vir sy jarelange bydrae aan die SA wynbedryf nie.

En miskien beskryf die woord legende, Olla ten beste. Iewers is geskryf:

A legend is someone who leaves behind an unforgettable impression on others. They touch lives, they’re remembered, they’re cherished. There are all sorts of legends in this world – famous or not. Becoming one means finding your particular role, your calling, following it, and touching others around you.”

Op 80- jarige ouderdom het Olla dit steeds gedoen.

Olla was ‘n goeie vaandeldraer van ons alma mater se leuse: Semper Splendidior, en sy storie sal onthou word deur sy 1963-klasmaats.

Theo Mey (1963)

Vader van vele Old Boys oorlede

Uitnodiging na die onlangse gedenkdiens vir wyle Coenraad Calitz (1932-2024).

Coenraad Calitz, wat 6 September 2024 in die ouderdom van 92 oorlede is, was nie self ‘n Old Boy van Paul Roos Gimnasium nie, maar het sewe seuns en twee kleinseuns gehad wat wel is.

Read more: Vader van vele Old Boys oorlede

Die seuns is Andries (1976), Steun (1977), Tertius (1980), Hanno (1982), Werner(1986), Nico (2009) en James (2011). Die kleinseuns is Carel (2008) en Luca (2020).

Die sewe seuns verskyn hier in ‘n koerantknipsel van circa 2010.

Boonop was sy tweede vrou, Anita, jare lank departementshoof van fisiese wetenskap aan die skool en later ook in beheer van die laboratoriums.

Oom Coenie, wat ‘n lang loopbaan as dosent aan die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universteit van Stellenbosch gehad het, het die skool oor die instandhouding van geboue geadviseer.

By ‘n massa-reünie in 2016 om die skool se 150ste bestaansjaar te vier, is  Coenraad Calitz deur die Old Boys met ‘n spesiale feesdas vereer.

By dié geleentheid het hy volgens ‘n berig op Netwerk24 gesê hy is nederig en dankbaar dat hy met al sy seuns en kleinseuns om een tafel te sit. Paul Roos Gimnasium het hom gehelp om vir sy seuns en kleinseuns waardes te leer. “Dit is ‘n skool uit een stuk!”

Lees die volledige berig hier.