Edition / Uitgawe Dec 2024

Willie Engelbrecht (1980) was een van SA se grootste fietsryers

Die nuus dat Willie Engebrecht onverwags op 1 Desember oorlede is, het heelwat kommentaar en meegevoel uitgelok. Willie (Klas van 1980) word beskou as een van die beste fietsryers wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Hy het tussen 1988 en 1994 die Argus-fietstoer vyf keer in sewe jaar gewen. Hy het ook die Rapport-toer in 1990 gewen en het die bronsmedalje in die padwedren in 1994 op die Statebondspele in Kanada verower. Hy het ook in die laat tagtigerjare en vroeë negentigerjare aan Europese wedrenne deelgeneem.

Heelwat huldeblyke het ingestroom kort na die nuus van sy dood bekend geword het, maar hierdie een van die sportskrywer Colin Hoffman,op Facebook vat dit veral mooi saam:

“Willie het gedurende sy loopbaan as mededingende fietsryer ongelooflike plesier aan sy ondersteuners en selfs opponente verskaf. Daar was niks mooier as om Willie op volle vaart te sien wanneer hy besluit het om ‘n uitdaging te rig en sy opponente te toets.

“Dit was soos die Engelse sê, “poetry in motion”. Dit was asof hy en sy fiets een geword het. Niks anders as daardie blink en atleties-gevormde bene en die wiele het beweeg. Die gemak waarmee hy onder sy teenstanders kon uitry, het jou soms na jou asem laat snak.

“Dit was nie ‘n bakleiery met die fiets soos baie ryers lyk asof dit ‘n sak aartappels is wat bo wil bly nie. Nee, Willie was ‘n prentjie. ‘n Prentjie wat in jou gedagtes gebly het.

“As fietsryer het hy ongelooflike sukses behaal en kan ongetwyfeld as een van Suid-Afrika se suksesvolste pad- én baanryers beskou word. Met sy bykans filmster-uiterlike en ‘n blonde boskaas, het hy altyd uitgestaan. Hy het ‘n teenwoordigheid sonder weerga gehad.

“My eie pad met Willie strek so ver terug as 1984 toe hy gedurende ‘n skof van die Rapport Toer op Newcastle in die naelrit na die eindstreep agter in die televisiemotor vasgejaag, geval en sy sleutelbeen gebreek het. Hy het die volgende dag moedig probeer om aan te gaan, maar moes later die handdoek ingooi weens die pyn.

“Ons het daarna eintlik goeie vriende geraak en ek glo ek het gehelp om hom uiteindelik sover te kry om Stellenbosch vir Johannesburg te verruil. Dit is waar die aksie was en toe hy uiteindelik dié stap geneem het, het sy loopbaan van krag tot krag gegaan.

“In 1987 het hy en Mark Beneke die Goudstad vir België verruil waar hulle vir die ADR-span gery het. Dieselfde span vir wie die Amerikaner Greg LeMond in 1989 gery en sy derde Tour de France-titel verower het toe hy in die epiese laaste skof ‘n agterstand van 52 sekondes op die Fransman Laurent Fignon in die individuele tydtoets tot in Parys in ‘n toersege van slegs 8 sekondes omskep het.

“Met Suid-Afrika se amptelike hertoetrede tot die internasionale sportarena in 1992, het hy in 1994 in Kanada die eerste medalje vir Suid-Afrika by die Statebondspele losgejaag toe hy brons in die padwedren verower het.

“Hy is daarna op onverklaarbare en selfsugtige optredes deur die destyds Suid-Afrikaanse Fietsryfederasie (SAFF) uit die span gelaat vir die Olimpiese Spele in 1996 in Atlanta, wat ook ‘n vroeë beëindiging van sy loopbaan beteken het. Op 34 het hy nog baie gehad om te bied, maar die outokratiese manier waarop hy hanteer is deur ‘m klomp ego-honger beamptes het hom laat besluit genoeg is genoeg. (Lees binnekort meer daarvan in die boek wat ek en Chris Willemse eersdaags die lig sal laat sien oor die geskiedenis van Suid-Afrikaanse fietsry.)

Hy het daarna ook as sakeman ontpop en ‘n uiters suksesvolle besigheid in Bellville op die been gebring. “