Edition / Uitgawe Jun 2025

Semper hou jou op die hoogte van wat by die skool en in die wêreld gebeur

Om die storie uit die perd se bek te hoor, bly steeds die beste manier om op hoogte te bly van die gebeure op die skoolgrond van Paul Roos Gimnasium. Die jongste uitgawe van Semper – April 2025 – is insiggewend en boeiend.

Wat steeds ‘n gesprekstema bly, is die konsep van “doop.” Sedert 2010 is dit by PRG ontwikkel tot ‘n mentorskapprogram waarin nuwe graadagts touwys gemaak en in ‘n broederskap opgeneem word. Vir die matrieks wat die leiding neem, is dit ‘n waardevolle geleentheid om leierskap en kommunikasievaardighede te slyp.

Nog ‘n ontwikkelende tradisie vir die matrieks is die Verjaardagbal, wat sedert 2018 ‘n integrale deel van PRG se kultuur geword het. Dans het duidelik ‘n groot indruk gemaak vanjaar, en daar was genoeg ruimte om die ritme van die aand te geniet. ‘n Nuttige wenk: Maak seker jy ontmoet die metgesel wat jou maats vir jou reël vooraf!

Wat gebeur in die wêreld? Aktuele onderwerpe sluit in die vraag of ons werklik met klimaatsverandering te doen het, en of die Lewis Hamilton-Ferrari-kombinasie op die F1-renbaan die sleutel tot oorwinning is. Verder word insigte gedeel oor die relevansie van albums in die moderne musiekwêreld.

Paul Roos se oud-leerder Dr. Leon Schreiber (2006), tans Minister van Binnelandse Sake, het ‘n besoek aan sy alma mater gebring en… raai wat? Hy het leerders aangemoedig om ‘n loopbaan in die staatsdiens te oorweeg. Sy boodskap is duidelik: Daar is ‘n toekoms vir almal in Suid-Afrika, en PRG kan ‘n beduidende rol speel in dié visie.

Op ‘n meer persoonlike noot het die skool afskeid geneem van twee geliefde Afrikaans-onderwysers: Louise Horn en Alida van Staden. Beide gaan die skoolseuns se humor mis, en hulle sal self ook gemis word. Me. Horn se raad aan jong onderwysers? Leer so veel as moontlik by ander, maar plaas altyd die leerders se belange eerste. Haar pad lei haar na die Weskus, terwyl Me. Van Staden na Hermanus verhuis. Gelukkig het PRG ‘n span nuwe onderwysers verwelkom, en ons het die geleentheid gehad om met vier van hulle te gesels.

Die debat raak intens wanneer prikkelende onderwerpe soos die verdwyning van hardekopie-koerante, die verkorte aandagspan van die moderne mens, en die vraag of kunsmatige intelligensie die toekoms van onderwys is, onder die loep kom.

Dit en veel meer wag op lesers as hulle hier klik: » Semper April 2025 | Paul Roos Gimnasium – Gymnasium