In Memoriam
Onderstaande is ′n uittreksel uit ′n artikel wat Herman Lategan in Rapport van 28 Mei 2017 geskryf het.
Dr Robbie (Gilbert Adrian) Robinson, ′n voormalige hoof van Sanparke en bekend as die stigter in 1964 van die Tsitsikamma Nasionale Park se mariene bewaringsgebied is op 15 Mei oorlede.
Die park was die eerste in sy soort in Afrika en een van die heel eerstes wêreldwyd. Dit is vandag een van die oudste bewaringsgebiede op die vasteland. Dr Robinson was ook die stigter van die Otter-voetslaanpad.
Sy vrou, Joh, vertel: “Sy pa was in die intelligensiediens in die Tweede Wêreldoorlog. In dié tyd het hy met die res van sy familie op Kleine Zalze buite Stellenbosch gewoon, waar hy sy liefde vir die natuur ontwikkel het.
“Later het die familie buite Kleinmond gaan bly waar sy entoesiasme vir die see, swem en visvang ontstaan het.”
Na matriek aan Paul Roos Gimnasium is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy eers sy BSc-graad in botanie en soölogie behaal het en daarna ′n MSc-graad (cum laude).Sy MSc-graad se verhandeling was oor ansjovis. Hy was die eerste student op Stellenbosch wat ′n rekenaar in dierkundige navorsing gebruik het om sy data te verwerk.
Hy is later aangestel as parkehoof in Tsitsikamma en die bekende hangbrug by Stormsriviermond het hy en ′n man van Humansdorp aangepak sonder enige kennis van ingenieurswese.
Die Otter-wandelpad was ′n passsie en die meeste werk hier is gedoen tusen 1967 en 1968. Oorspronklik was daar talle visvangroetes langs die kus, maar as gevolg van die diep klowe is die paadjies nooit met mekaar verbind nie. Hy het die geweldige taak aangepak om die klowe met die netwerk visvangpaadjies te verbind.
In September 1968 is hy na die wêreldbekende mariene fasiliteite by die Universiteit van Washington in Seattle. Die onderwerp van sy doktorsgraad was die lynvisvangste van die Japannese en Russe.
Hy is later deur die Wêreldbank ′n kontrak aangebied om as hoof van die Uganda Wildlife Authority op te tree. Hy was ook ′n raadgewer in Kambodja vir ses maande ná die verwoesting van die tsoenami.
“Ons is op Tweede Kersdag in 1964 getroud ná sewe jaar se vryery,” sê sy vrou. Hy is ná ′n lang siekte in die Knysna-hospitaal oorlede en laat sy vrou, twee seuns en vier kleinkinders agter.
