Jannie “Lappies” Labuschagne (klas van 1972) is op 16 Mei oorlede. Hy was jare lank by Paul Roos as skolier, ondersteuner en braaimeester betrokke.
Volgens die Distrikspos was hy alombekend as die Helderberg se “spitbraai-koning”. Hy was die eienaar van Spitbraai King in Somerset-Wes en die vervaardiger van die bekende Lappies-sous.
Na Lappies sy BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, het hy ′n tyd in die bankwese gewerk. In 1985 begin hy met sy eie besigheid en het Spitbraai King sy deure oopgemaak. Met harde werk en sy kenmerkende geesdrif vir die lewe het hy dit tot ′n florerende besigheid uitgebou.
Hy was baie lojaal en ondersteunend teenoor talle gemeenskap-instansies en was onder meer jare lank ′n groot donateur asook komiteelid van Paul Roos se OSU.
Hy was die seun van Awie Labuschagne, ′n baie bekende radio-rugbykommentator.
Ons gee erkenning aan Distrikspos en Riaan Gerber vir hierdie oorsig oor sy lewe.

